Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ouers maak hart oop ná moord op seun
Letitia Moore en haar man Renaldo Moore met foto’s van hul oudste seun, Jordan Moore. Jordan sou in 2021 in gr. 11 gewees het. Foto: Maygene de Wee

Hy was sy ouers se liefdesbaba en vir 15 jaar die enigste kind totdat sy boetie, Reece (nou 15 maande), sy opwagting gemaak het.

Op Vrydag 6 November 2020 is Jordan Moore (16) van Saxonsea, Atlantis, buite Kaapstad, deur ’n groep mans vermoor.

Sy ouers, Renaldo Moore (36) en Letitia Moore (35), het Vrydag vir die eerste keer sedert Jordan deur ’n groep van nege mans vermoor is oor hul seun se dood gepraat.

By hul huis in Saxonsea hang daar foto’s van Jordan saam met sy ouers, van hom en van sy bababoetie in die sitkamer en gang.

Dit is vir die egpaar, wat skoolliefdes was, nog swaar om oor die wrede manier waarop Jordan van hulle weggeruk is te praat.

Letitia sê haar seun se dood is baie moeilik vir haar.

“My emosies ry nog wipplank met my. Dit is veral vir my moeilik wanneer ek oor hom praat of na foto’s van hom kyk.”

Sy sê dat sy Vrydagoggend terwyl sy alleen by die huis was, weer baie emosioneel was.

Ook vir Renaldo is dit swaar om oor sy eersgeborene, sy oudste seun, te praat. Hy sluk sy trane terug toe hy sê: “Ek is nie fine nie. Ek is nie oukei nie. Ek sal nooit fine wees nie. Hy is net so skielik vermoor, uit die huis uit.”

Moore, ’n polisieman, se skouers ruk terwyl hy na bo kyk.

Hy voel geregtigheid moet geskied.

“Daar moet geen genade vir hulle wees nie. Hulle het geen genade vir my kind gehad nie. Ons was nie gereed dat hy so wreed uit ons lewe geruk moes wees nie.”

Sy ouers lag wanneer hulle gevra word van watter kos Jordan gehou het.

Sy pa sê enige kos. Pasta, kerrie, briyani, pie, ’n snoek se ruggraat, pakkies tjips.

Jordan Moore (16) is in November verlede jaar wreed deur ’n groep mans vermoor. Die motief is nog onbekend.

“Hy sou voor hy sy kos eet nog eers ’n pakkie tjips ook eet.”

Sy ma sê Jordan het altyd gesê dat hy famous gaan wees.

“Ek dink egter nie my kind sou op so ’n manier famous wou raak nie.”

Hulle wil veral die Atlantis-gemeenskap vir hul ondersteuning bedank, die plaaslike taxivereniging en ook vir adv. Venice Burgins van die Ukubavimba-stigting wat die hofsaak namens die gesin monitor.

Volgens Letitia sou Jordan die aand by sy neef oorslaap.

“Hy het ons al in die week begin vra of hy by sy nefie kan gaan slaap die Vrydagaand. Hy sou dan die Saterdag terugkom huis toe,” vertel sy.

Die Vrydagoggend vroeg was Jordan, of Jordie soos sy ouers hom genoem het, se oornagsak al klaar gepak. Hy was volgens hulle daardie oggend baie stil.

Moore het sy seun kort voor 12:00 by sy nefie se huis in Robinvale afgelaai en daarna vir sy vrou by haar werk.

Die aand het Letitia ’n oproep van Jordan se meisie se ma gekry. Sy het vir haar gevra waar Jordan is.

“Ek het vir haar gesê dat hy by sy nefie oorslaap.

Letitia het onmiddellik vir Jordan gebel. Sy foon was af. Sy het sy nefie gebel.

“Hy het gehuil toe hy sy selfoon geantwoord het.”

Sy het vir hom gevra waar Jordan is. Hy het deur sy trane vir haar gesê: “Auntie Tisha, he is not with me.”

Volgens Letitia het Jordan se nefie so gehuil dat sy hom gevra het om sy foon vir iemand te gee wat vir haar kan vertel wat gebeur het.

“Sy pa, my neef, het die foon by hom geneem en vir my gesê dat hulle by die sportveld is en dat ek soontoe moet kom. Hy het gesê daar het iets met Jordan gebeur.”

Haar neef het ook vir haar gesê sy moet haar man bel en sê hy moet huis toe kom.

By die sportveld gekom het Letitia nog gehoop dat Jordan nog lewe. Toe sy egter haar seun se lewelose liggaam met die bloed om sy gesig en kop sien, het sy geweet hy is nie meer met hulle nie.

Die lykskouing het getoon dat sy slagaar by sy keel afgesteek is. Hy het ook veelvoudige steekwonde regoor sy gesig gehad. Jordan se linkeroog is uitgesteek en sy tande uit sy mond getrap.

Nege mans, onder wie twee jeugdiges, is vir sy moord aangekeer.

Die mans verskyn weer op 9 Februarie in die landdroshof in Atlantis vir ’n moontlike borgtogaansoek.

Jordan, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Robinvale in Atlantis was die betrokke Vrydagaand saam met sy neef en ’n vriend in Robinvale toe hulle na bewering deur ’n groep mans by die park waar hulle gesit het, gevange gehou en gedreig is.

Die ander twee seuns het weggekom en gaan hulp soek. Met hul terugkeer was Jordan reeds dood.

Letitia sê Jordan se nefie het gesê hy het nog gehoor hoe Jordan vir een van sy aanvallers skreeu: “Los my! Los vir my!”

“Die kinders kon egter nie teruggaan nie. Dit was donker en hulle was ook bang,” sê sy.

Meer oor:  Jordan Moore
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.