Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ouers wis nie hoe geliefd hul danser-seun was

Die ma van die jong hip-hop-danser wat Vrydagnag in die Kaapse middestad doodgeskiet is, het Dinsdag gesê sy het nooit besef haar seun was so geliefd nie.

Franco Deste (21) se ouers, Natasha du Toit en haar man, Mathys, het by hul huis in Pinelands gesê hul drumpel is deurgetrap deur mense wat hulle nie eens ken nie, van die dag dat die tyding gekom het dat Deste geskiet en in die Christiaan Barnard-hospitaal dood is.

Franco DesteFoto: Facebook/Franco Deste

Natasha sê Deste was nie ’n baie huislike kind nie. “Hy was altyd iewers heen op pad met vriende of altyd iewers by vriende se huis.”

Volgens haar het mense gekom en gesê hoe Deste die lewe van enige partytjie was en hoe hy met net sy glimlag ’n vertrek kon ophelder.

“Ons het behalwe die mense wat ons by ons huis kom besoek het, ook op Facebook ’n kant van ons kind gesien wat ons nie geken het nie.

“Hy het sterk verhoudings gehad, nie net met sy vriende nie, maar ook met hul ouers, en daarvoor is ons as sy ouers baie dankbaar.”

Natasha sê Deste het op nege jaar begin dans. Toe hy 11 jaar oud was het hy tweede gekom in ’n internasionale hip-hop-kompetisie in Duitsland.

Op ’n vraag oor wat Deste vir ’n lewe gedoen het, sê Natasha hy wou nooit gaan studeer nie. “Hy het reguit vir ons gesê hy wil nie gaan studeer nie. Hy het homself as ’n entrepreneur gesien.”

Mathys sê sy seun was altyd gereed om ’n sakegeleentheid te sien. “Hy was nou onlangs vir twee maande in Namibië waar hy en nog vriende skrootmetaal herwin en verkoop het. Voor dit het hy klere verkoop, selfone aangekoop, herstel en weer verkoop.”

Natasha en Mathys was Maandag in die hof toe die man (22) wat hul kind na bewering geskiet het, op ’n aanklag van moord in die landdroshof in Kaapstad verskyn het.

Die ouers sê Deste en sy vriende was glo vroeër die aand by ’n vriendin se verjaardagpartytjie. Hulle is daarna na ’n nagklub in Loopstraat.

“Soos ons dit gehoor het, het Franco en ’n vriend hand om die nek met mekaar geloop. Die man wat hom na bewering geskiet het, Ethan Fisher (22), het voor hulle geloop en glo gevra hoekom agtervolg hulle hom.”

Sy vriende het hom onmiddellik in ’n voertuig gelaai en na die Christiaan Barnard-hospitaal gebring. Daar het dokters vir bykans vyf uur gespook om sy lewe te red.



Natasha sê hulle is kort voor 01:00 gebel en ingelig dat Deste geskiet is.

“Dokters het na 05:00 kom sê hulle kan niks meer doen om my seun se lewe te red nie.”

Fisher het Maandag op ’n aanklag van moord verskyn nadat hy hom aan die polisie oorgegee het. Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer op 29 November in die hof verskyn.

Deste word Saterdag, 14 September, uit die Ou Apostoliese kerk in Kenwyn begrawe. Die diens begin om 10:00.

Meer oor:  Misdaad  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.