Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ouma glo deur kleinseun verwurg

’n Man van Limpopo het sy ouma glo verwurg nadat hy haar van heksery beskuldig het.

Sayina Florah Baloyi (74) se lyk is Vrydagaand laat in haar huis in die Hlanganani-nedersetting buite Elim gekry.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die vrou se bure het die polisie laat weet iets is nie pluis by haar huis nie.

’n Reusesoektog is na die 19-jarige man begin en hy is Sondagoggend vroeg in hegtenis geneem.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Limpopo, het die moord veroordeel. Sy het in ’n verklaring haar kommer uitgespreek oor die grusame moorde die afgelope twee weke op vroue en kinders in Limpopo.

Verlede week is ’n ouma, Paulina Mafifi (67), en twee van haar kleinkinders, Nathaniel Mafifi (9) en Selaelo Mafifi (7), in ’n plas bloed in Paulina se huis in die Maokeng-nedersetting in Senwabarwana buite Polokwane gekry.

Die moordenaar(s) is nog op vrye voet.

Die Mafifi-moorde het gekom kort nadat ’n 43-jarige man sy 38-jarige vriendin en haar 27-jarige niggie in ’n gesinstreurspel in Namakgale buite Phalaborwa doodgeskiet het.

Die man het ook sy 16-jarige dogter geskiet nadat sy Maandag ’n klag van verkragting teen hom by die polisie aanhangig gemaak het. Sy is ernstig gewond. Die man het homself daarna doodgeskiet.

“Vroue, kinders en bejaardes is veronderstel om gekoester te word deur hul families en die gemeenskappe waarin hulle bly,” sê Rakgoale.

Die 19-jarige man sal Dinsdag in die landdroshof in Tiyani op ’n aanklag van moord verskyn.

Rakgoale sê sy wil nie hê dat hy borgtog moet kry nie. “Ons kan nie bekostig om te sien hoe ons bejaardes vermoor word nie.”

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het Rakgoale verlede week opdrag gegee om ’n taakspan saam te stel en in samewerking met die polisie ’n einde aan geweld teen vroue, kinders en bejaardes te bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.