SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
Ounooi die polisiehond op herstelpad ná mesaanval

Ounooi, die polisiehond wat die afgelope naweek deur ’n vermeende inbreker met ’n mes aangeval is, sal haar loopbaan as polisiehond kan hervat.

Dit gaan wel ’n paar weke se rus neem, maar die polisie is vol vertroue dat Ounooi ten volle sal herstel en haar pligte as patrolliehond sal kan voortsit.

Ounooi, ’n patrolliehond van die Port Alfred-polisie se honde-eenheid, is aan die herstel nadat sy die naweek deur ’n vermeende inbreker met ’n mes gesteek is. Foto: Verskaf

Dié sesjarige Belgiese herdershond van die Port Alfred-polisie se honde-eenheid is Saterdag omstreeks 04:00 verskeie kere deur ’n vermeende inbreker met ’n mes gesteek.

Dit kom nadat die polisie op ’n inbraak gereageer en die verdagtes se spore tot op ’n strand gevolg het.

Ounooi het ’n man, wat langs die see afgehardloop het, agternagesit omdat die man nie gehoor gegee het aan die polisiebeampte se bevel om te stop nie.

Sy het op die vermeende inbreker afgepyl, wat haar toe met ’n mes in die borskas gesteek het.

Een van Ounooi se wonde. Foto: Verskaf

Die steekwonde het spiere naby Ounooi se hart beskadig en sy het op die toneel ineengestort, terwyl die vermeende inbreker in die see ingehardloop het om te vlug.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het Maandagmiddag gesê Ounooi sterk aan in die honde-eenheid se hondehokke.

Ounooi het Maandagoggend haar steke uitgebyt, waarna sy ’n tregterkappie gekry het om haar te keer om aan die wonde te karring.

“Sy is stabiel en rus. Sy sal binnekort weer terug by ons wees, maar vir nou het sy tyd nodig om te herstel,” het Govender gesê.

Die soektog na die vermeende inbreker duur voort.

Die man is volgens die polisie deur Ounooi gebyt.

Ondanks die Nasionale Seereddingsinstituut se bystand is geen teken van die man gevind nie.

Govender sê dit is nog te vroeg om te kan bespiegel of die man moontlik verdrink het, aangesien hy moontlik geswem en elders op ’n strand uitgekom het.

Indien enigeen moontlik ’n familielid vermis of inligting rakende die voorval het, kan hulle die Port Alfred-polisiekantoor by 046 604 2001 skakel.

Meer oor:  Port Alfred  |  Mesaanval  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.