Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Overstrand: Polisie kán misdaad nie bestry, sê ombud
Polisielede en amptenare van die departement van landbou, bosbou en visserye tel perlemoen waarop daar beslag gelê is in Kaapstad.Foto: Kapt. Piet Smit (SAPD)

Die polisie in die Overstrand het nie die hulpbronne en vermoë om misdaad te bestry en inwoners te beveilig nie, veral wat perlemoenstropery betref.

Genl.maj. Johan Brand, Wes-Kaapse polisieombudsman, het Donderdag sy verslag oor sy ondersoek hierna aan die provinsiale wetgewer voorgelê. Dit volg op ’n klagte van die burgemeester van Overstrand dat die polisie hier nie hul mandaat ingevolge die Grondwet kán uitvoer nie.

Die ondersoek het spesifiek op die polisiekantore in Hermanus, Gansbaai, Kleinmond en Stanford gefokus en gekyk na klagtes dat veral perlemoenstropery en onluste nie doeltreffend gepolisieer word nie.

Brand het bevind daar is ’n tekort aan polisielede en hulpbronne in Overstrand en die polisie het nie die vermoë om misdaad te voorkom, te bestry en behoorlik te ondersoek nie.

Verder het hy bevind die polisie kan nie openbare orde handhaaf in Overstrand nie en aanbeveel dat die Overberg-distrik sy eie openbare-orde- (POP) eenheid kry sodat die lede nie van Kaapstad af moet deurry nie.

Die tekort aan hulpbronne het ’n negatiewe uitwerking op polisiedienste in die gebied, lui die verslag.

Genl.maj. Johan Brand, Wes-Kaapse polisieombudsman. Foto: Brümilda Swartbooi/ Standard

“Dit is duidelik die polisie in die Overstrand- polisiekantore en op provinsiale vlak is nie in staat om die inwoners en hul eiendom te beskerm en die oppergesag van die reg te handhaaf nie. Dit is gedeeltelik weens beperkte hulpbronne, maar hoofsaaklik as gevolg van die onvermoë om in die behoeftes van die gemeenskappe te voorsien.”

Brand het bevind die polisie se indruk van die gemeenskap se behoeftes op die vlak van polisiekantore, groeperings en provinsiaal is “heeltemal verwyder” van die werklike behoeftes.

Tydens die ondersoek het die gemeenskap perlemoenstropery as ’n groot drywer van misdaad in die gebied uitgewys. Dit het ook ’n verbintenis met georganiseerde misdaad.

Brand het geen verwysing na die bestryding van stropery in die polisiekantore se jaarlikse operasionele plan vir die boekjaar 2018-’19 gevind nie of dat dit as ’n prioriteitsmisdaad in die Overberg-groepering of provinsiale vlak beskou word nie.

Die operasionele planne van die polisiekantore vir die boekjaar 2019-’20 was nie afgehandel teen die tyd dat Brand se verslag opgestel is nie en hy sê dit is kommerwekkend omdat die eerste kwartaal van dié boekjaar reeds agter die rug is.

Op provinsiale vlak het Brand bevind beslagleggings op perlemoen het in die afgelope drie boekjare afgeneem en die “fokus het duidelik van perlemoenverwante misdade af verskuif”.

Op nasionale vlak is daar niemand “wat almal bymekaartrek” om perlemoenstropery in die Wes-Kaap te bestry en gapings uit te wys nie, lui die verslag.

Stropery wat renosters en olifante teiken, het hul eie kodes op die polisie se stelsels en val onder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, wat swaarder vonnisse dra.

Perlemoenstropery val egter onder die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne. Brand beveel aan dat dit ook soos die stropery van renosterhoring en ivoor geklassifiseer word.

Hy het ook aan die nasionale minister van polisie aanbeveel dat projekte in verband met perlemoenstropery deur die georganiseerde-misdaad-eenheid ondersoek word.

Aanvalle op voertuie van die polisie en die departement van landbou, bosbou en visserye het verder ’n ernstige uitwerking op amptenare se werkverrigting, “want hulle is bang om op te tree”.

Die agentskap vir staatsveiligheid het ook waarskuwings voor dié aanvalle uitgereik, maar tog is “niks gedoen nie”, luidens Brand se verslag.

Perlemoen staan in droograkke in ’n aanleg in Kaapstad waar die polisie ’n klopjag uitgevoer het.Foto: Verskaf

Meer oor:  Perlemoenstropery  |  Overstrandm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.