
Die polisie het die naweek toegeslaan op vermeende smokkelaars in die Gansbaai-gebied. Foto: SAPD
Die polisie in die Wes-Kaap het beslag gelê op perlemoen ter waarde van R5 miljoen toe verskeie eenhede asook die weermag saamgewerk het in Gansbaai.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die optrede het op Dyereiland gefokus.
Die vermeende smokkelaars is danksy die multidissiplinêre optrede uit die lug, op die land en op water geteiken.
Die polisie het beslag gelê op twee bote asook ’n bakkie en sportnutsvoertuig wat reeds vooraf geïdentifiseer is as die van perlemoensmokkelaars.
Die polisie het by Eluxolweni en Buffelsjagbaai op 5 122 stuks perlemoen beslag gelê asook 576 ontskulpte perlemoen.
Drie verdagtes van onderskeidelik 23, 28 en 41 jaar oud, is naby Eluxolweni in hegtenis geneem weens die besit van perlemoen, duik in ’n beheerde gebied en omdat hulle verbode toerusting by hulle gehad het.
Nog ’n verdagte (23) is by Bloubaai aangekeer omdat hy in ’n beheerde gebied geduik het en onwettige toerusting by hom gehad het.
’n 27-jarige man is by Buffelsjagbaai in hegtenis geneem vir die onwettige besit van 18 heel perlemoen en 166 ontskulpte perlemoen.
Hy word ook van regsverydeling aangekla en het saam met die ander mans in Bredasdorp in die landdroshof verskyn.
Van Wyk sê die mans se moontlike betrokkenheid by georganiseerde misdaad sal deel vorm van ’n groter ondersoek na perlemoensmokkelary.
Daar is ook die naweek verdagtes by die Overberg gevang en by Saldanhabaai is ’n vermeende smokkelaar gevang wat met ’n boot probeer vlug het.
Die nasionale weermag, verskeie polisie-eenhede, die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, die Kaapse departement van natuurbewaring en Bidvest Proteacoin het aan die operasie deelgeneem.

Die optrede teen perlemoensmokkelaars is deur wetstoepassers op see, land en in die lug gedoen. Foto: SAPD

Vermeende perlemoensmokkelaars is die naweek vasgetrek toe die polisie en nog wetstoepassers by Gansbaai toegeslaan het. Foto: SAPD