Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa en seuns op Malmesbury-plaas aangeval

Ses verdagtes is Saterdagaand in hegtenis geneem ná ’n plaasaanval naby Malmesbury nadat boere in die omgewing, vrywilligers en die Malmesbury-polisie saamgewerk het om paaie af te sper.

Minstens sewe gemeenskapsveiligheidgroepe betrokke in die operasie om die verdagtes te vang.

Sewe gewapendes het twee broers, onderskeidelik 17 en 20 jaar oud, en hul pa Saterdagaand omstreeks 19:45 by hul huis op die plaas Droëvlei gekonfronteer en aangeval, sê lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, in ’n verklaring.

“Ná die aanranding het hulle met van die gesin se eiendom gevlug.

“Sowat 3 km van die misdaadtoneel is ses van die sewe verdagtes deur die polisie in hegtenis geneem. Hulle is tussen 23 en 27 jaar oud. Die sewende verdagte word nog gesoek.”

Hulle sal in die landdroshof op Malmesbury verskyn.

Die slagoffers is op Facebook geïdentifiseer as Robert, Gideon (17) en Joshua (20) Post. Robert het Sondag gesê hy wil eerder nie uitwei oor Saterdagaand se gebeure nie omdat die saak nou in die hof gaan voorkom.

Hy het wel bevestig dat hy en sy seuns net ligte beserings opgedoen het en dat die polisie tot Sondagmiddag op die toneel was om die verdagtes se spore te volg.

Luidens ’n verklaring van Fanie Hattingh, hoof van die Klapmuts-buurtwag, was mense van minstens sewe gemeenskapsveiligheidgroepe betrokke in die operasie om die verdagtes te vang.

Wat die Wes-Kaap betref, is daar vanjaar ’n definitiewe toename in aanvalle in vergelyking met vorige jare.

“Meer as 50 bakkies, meer as 10 voertuie met gewapende veiligheidsbeamptes, asook die polisie, was betrokke. “Omstreeks 20:30 het die polisie ’n verdagte voertuig op die R304 en R312-kruising voorgekeer en die insittendes ondervra,” lui die verklaring.

“Ses moontlike verdagtes was in een voertuig. Daarna is hulle geïdentifiseer as mans wat op die toneel was en gearresteer.”

Hattingh het almal bedank wat by die operasie betrokke was en hulle gelukgewens omdat die verdagtes aangekeer is.

Ook Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het almal wat betrokke was, gelukgewens met hul sukses ná die voorval.

“Ek dink wat ons nou moet doen, is om proaktief te wees en seker maak daar is samewerking tussen boere in die omgewing en die polisie.”

Cameron sê dié aanval is een van drie plaasaanvalle die naweek in die land. Die ander was by Bela-Bela, Limpopo, waar ’n boer en plaaswerker vermoor is, en by Hekpoort, Gauteng, waarin minstens een slagoffer erge brandwonde opgedoen het.

“Wat die Wes-Kaap betref, is daar vanjaar ’n definitiewe toename in aanvalle in vergelyking met vorige jare. Ons is bewus van 25 aanvalle en vier voorvalle waar moord vanjaar gepleeg is,” sê Cameron.

Die toename in die vlak van geweld en die getal aanvallers wat aan aanvalle deelneem, is kommerwekkend, sê hy.

“Ons het ook gesien dat die aanvalle, veral die geweldadige aanvalle, in die Stellenbosch en die Paarl-omgewing plaasvind. Verlede jaar het ons dit meer in Vredendal se rigting gesien, so dit is asof daar ’n verskuiwing nader aan Kaapstad is,” sê Cameron.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Plaasaanval  |  Verdagtes Aangekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.