Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa skiet 4 ná seun se siekte hom knak

’n Week voordat ’n pa van Secunda die afgelope Donderdag sy gesin uitgewis het, het sy begaafde seun vir die eerste keer op die internet uitgevind presies wat is spierdistrofie, die wrede siekte waaraan hy gely het.

Lizelle, Henko en André Naudé.
Lizelle, Henko en André Naudé.

Dit het hom met geweldig baie vrae gelaat.

Donderdagnag het André Naudé (50) geknak en sy seun, Henko (17), sy vrou, Lizelle (52), én sy 83-jarige ma, Tina Naudé, doodgeskiet.

Toe gaan sit hy op die vloer voor die toilet en druk die wapen in sy eie mond om ’n einde aan alles te maak.

Die eerste teken van onraad by die netjiese huis in Suidheuwel, Secunda, was toe Lizelle Vrydagoggend nie vir werk opgedaag het by die Laerskool Marietjie vir kinders met spesiale behoeftes nie. Sy was ’n onderwyseres daar.

'Hy het baie moeite gedoen vir sy seun.’

Andries Lee, bedryfsbestuurder van Roman Alarms, die gesin se veiligheidsmaatskappy, is gevra om te gaan kyk of daar fout is. Die huis se veiligheidshekke was gesluit, maar die houtdeure nie, en hy kon die agterdeursleutel bykom.

Agter die toe deur van die eerste slaapkamer het hy Tina se lyk in ’n plas bloed gekry. In die tweede slaapkamer, ook agter ’n toe deur, het Henko en Lizelle dood gelê – Henko op ’n enkelbed teen die muur en sy ma op ’n bed naby die deur. Al drie is in die linkerslaap geskiet.

André se lyk was in ’n sittende posisie in ’n plas bloed voor die toilet in die badkamer van die hoofslaapkamer. Langs hom het ’n 9 mm-pistool gelê. “Die bespiegeling is dat die gesin uitgevind het hy het net twee jaar oor om te leef,” sê Lee.

André was glo Donderdag baie ontsteld omdat Henko oor sy siekte gegoogle het.

Rudi Opperman (58) wat skuins oorkant die Naudés w
Rudi Opperman (58) wat skuins oorkant die Naudés woon, was Saterdag nog geskok oor die tragedie. By hom is sy vrou, Anna-Marie. Foto’s: Elizabeth Sejak

Sy broer, Ben, wou nie Saterdag met Rapport daaroor praat nie. “Dit is alles bespiegeling. Ek gaan niks sê nie,” het hy telefonies gesê.

’n Vriendin van Lizelle, wat met Rapport gepraat het op voorwaarde dat haar naam nie genoem word nie, het vertel dat sy ’n week voor die treurspel ’n selfoonboodskap van  Lizelle ontvang het waarin sy vertel het hoe Henko op Google uitgevind het hoeveel pyn sy siekte nog vir hom sou veroorsaak.

“Dit het hom met vreeslik baie vrae gelaat,” het sy gesê.

Die vriendin sê Henko het akademies uitgeblink en was ’n baie goeie skaakspeler. “Hy was ’n liewe kind wat altyd gelukkig was.”

Sy sê Henko, wat in die Hoërskool Secunda was, het nie eintlik maats gehad nie.

Die Naudés se huis in Suidheuwel, Secunda.
Die Naudés se huis in Suidheuwel, Secunda.

Volgens ’n inskrywing op die skool se Facebook-blad in Februarie 2017 het Henko destyds 96% gekry vir natuurwetenskap en 99,6% vir wiskunde.

André het glo ’n senior pos by ’n myn beklee.

Rudi Opperman (58), wat skuins oorkant die Naudé-gesin se huis woon en André jare lank geken het, sê hy het nooit gekla nie en was altyd opgewek. “Hy het baie moeite gedoen vir sy seun. Hy het nog ’n wit Volkswagen Caddy aangepas sodat hulle die rolstoel makliker kon vervoer.”

André en Lizelle moes alles vir Henko doen, sê hy. Hulle het hom gebad en aangetrek.

Opperman sê die Naudés was baie aangename mense. “Ek kan nie verstaan dat hy so iets sou doen nie. Ek het dit nie verwag nie. Dit het so skielik gebeur.”

Hy sê hy hoor Tina het by die gesin gewoon, maar hy het haar nooit gesien nie.

Opperman se vrou, Anna-Marie (58), sê sy het Vrydag gaan kyk wat aangaan toe sy ’n ambulans by die huis sien aankom. “Daar was heelwat karre en mense voor die huis en toe hoor ons daar was ’n gesinsmoord.”

Anna-Marie sê dit het nooit gelyk of enigiets fout was nie.

“Hulle was baie vriendelik en het altyd gegroet. Die tragedie bly in my gedagtes.”

Rudi sê André, wat lief was vir ou voertuie, het verlede jaar nog ’n ou silwer Ford Cortina-bakkie gekoop en dit vir hom kom wys.

Kapt. Gerhard Elmes, ’n polisiewoordvoerder van Secunda, sê drie sake van moord op die twee vroue en seun word ondersoek.
’n Geregtelike doodsondersoek na André se dood is begin.

Meer oor:  Tina Naudé  |  Henko Naudé  |  Lizelle Naudé  |  André Naudé  |  Secunda  |  Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.