Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa van 3 geskiet nadat hy budjie gaan haal
Abel Pienaar (42) Foto: Verskaf

’n Rustenburgse man is ernstig gewond nadat ’n inbreker wat by sy bure ingebreek het na sy huis gevlug het.

Abel Pienaar (42) is in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal opgeneem nadat ’n rower hom Saterdag in die vroeë oggendure in ’n kompleks in die buurt Safari-Tuine geskiet het.

Dié rekenmeester is omstreeks 01:30 in die maag geskiet toe ’n inbreker die gesin se huis betree het nadat Pienaar hul budgie, Buddy, buite gaan haal het. Die gesin het Buddy buite vergeet.

Pienaar is aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en word onder verdowing gehou.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder, sê daar word vermoed drie inbrekers was by ’n ander eenheid in die kompleks doenig waar hulle elektroniese toerusting gesteel het.

“In een van die kamers het hulle aan die oudste seun se voet gestamp. Hy het wakker geword, alarm gemaak en hulle het op die vlug geslaan. Een het toe na die bure langsaan gegaan,” sê Augoustides.

Pienaar het die skuifdeur oopgemaak om Buddy in te bring toe die inbreker ’n ruk later binnekom.

“Hy het die voëltjie neergesit en toe hy omdraai, het die man in sy sitkamer gestaan.”

Buddy, die Pienaars se budgie.Foto: Verskaf

Lizelle Pienaar (41), sy vrou, sê haar man het omgedraai om die veiligheidshek toe te maak toe die man in hul sitkamer staan.

“Hy sê hy het niks gedoen of gesê nie. Die volgende oomblik het die man ’n wapen uitgepluk en dadelik geskiet,” sê Lizelle.

Dié koeël het Pienaar nie getref nie.

Lizelle sê Pienaar het vir haar en hul drie kinders van tien, 14 en 19 jaar oud se lewe gevrees. Hy wou die man net uit die huis kry.

Die man het uitgehardloop en Pienaar het hom agternagesit.

Die inbreker, toe sowat drie meter van Pienaar af, het omgedraai en hom in die maag geskiet.

Lizelle sê haar man, wat sy eie besigheid het, werk soms tot laat. Die res van die gesin het in die boonste verdieping van die dupleks-woonstel geslaap toe die voorval gebeur het.

“Die skote het ons wakker gemaak – dit het geklink soos weerlig in my huis. Dit was die aakligste klank, ek wil dit nooit weer in my lewe beleef nie.”

Pienaar is Saterdag geopereer en sal weer Maandag ’n operasie ondergaan.

“Die koeël het hom net bo sy naeltjie getref, dit het gelukkig ondertoe gegaan en nie in die rugstring in nie.”

Sy dunderm en sy bekkenbeen is beseer. Sy bekkenbeen het gesplinter.

Dit kom nadat Gerald Spalding (54) Donderdagoggend vier keer in ’n gewapende rooftog in Rustenburg geskiet is.

“Die dokter is baie positief dat hy sal herstel, maar dit gaan ’n lang pad tot herstel wees. Ons bly maar positief.”

Daar is niks by die Pienaars in die voorval gesteel nie.

Die polisie ondersoek ’n klag van huisbraak en diefstal vir die gebeure by die bure en ’n klag van poging tot moord vir die voorval by die Pienaars.

Dit kom nadat Gerald Spalding (54) Donderdagoggend vier keer in ’n gewapende rooftog in Rustenburg geskiet is.

Augoustides sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die voorvalle Donderdag en Saterdag met mekaar verband kan hou, omdat dit op albei dae in die omgewing van Safari-Tuine en Cashan was.

* Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en Round Table het ’n bedrag geld ingesamel om met Pienaar se mediese koste te help.

Meer oor:  Abel Pienaar  |  Gerald Spalding  |  Rustenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.