Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa van 4 wreed op trein in Retreat vermoor

Die datum 11 Februarie sal Chanice Peters (29) van Retreat in Kaapstad nooit vergeet nie.

Sy en haar man, Randall Peters (39), het daardie oggend nog vir mekaar soentjies gegee en planne vir Valentynsdag beraam.

“Sien jou vanaand,” het sy vir hom gesê.

Min het Peters geweet dat sy daardie aand haar man se lyk sou moes gaan uitken.

Randall is daardie dag in ’n trein op pad huis toe wreed aangeval en doodgesteek.

Hy is onder meer in die kop, agterkop, wang, nek, rug en bors gesteek.

“Ek het hom gewoonlik elke dag gebel as hy die trein werk toe gehaal het, net om seker te maak hy het veilig by die werk aangekom. Hy het nie ’n foon gehad nie, so ek het hom normaalweg sommer op sy bestuurder se foon gebel,” sê Peters.

Randall Peters is op 11 Februarie op ’n trein doodgesteek. Foto: Verskaf

Randall het by die Aroma Drop Inn-drankwinkel in Lansdowne gewerk en Peters by Woolworths in Constantia Village.

Toe dit 19:00 word, die tyd dat Randall gewoonlik by die huis aankom, was daar nog geen teken van hom nie.

Peters het begin bekommerd raak.

Haar bestuurder het gebel en gevra of “hulle kan oorkom”.

Voordat haar bestuurder by die huis aangekom het, het haar vriendin haar gebel.

“Sy bly baie naby aan die treinstasie en het gesê haar kind het sopas winkel toe gegaan. Hy het oor die brug geloop en gesien daar lê iemand dood in die trein wat soos Randall aangetrek is,” sê Peters.

Randall Peters en sy vrou, Chanice, was ongeveer ses jaar getroud. Foto: Verskaf

Haar vriendin het gebel om seker te maak of Randall al by die huis is.

Die vriendin se oproep het Peters paniekbevange gelaat.

Toe haar bestuurder by die huis aankom, is hulle inderhaas na die Retreat-treinstasie.

“Toe ek daar aankom, wou die polisie weet watter klere my man aan het sodat hulle kon seker wees dit is hy.”

Sy kon sien hoe die polisieman se gesigsuitdrukking verander toe sy hom vertel watter klere Randall aangehad het. “Hy wys my toe ’n foto wat hulle geneem het.”

Sy is versoek om die lyk in die trein uit te ken, maar kon nie verder as die treindeur kom nie.

“Ek het geweet dit is hy. Ek kon nie na hom kyk nie. Dit was net te veel,” sê sy.

Sy het haar neef gebel. Hy het die lyk uitgeken.

Randall se horlosie, Nike-sak en ringe is gesteel. Daar het slegs ’n boks sjokolade langs sy lyf gelê. Die boks was vol bloed.

“Hy het die sjokolade vir my vir Valentynsdag gekoop,” sê Peters.

Die geskenke wat Chanice Peters vir Valentynsdag vir haar man, Randall, gekoop het. Sy het onder meer ’n foon gekoop. Foto: Verskaf

Randall is op 20 Februarie begrawe.

Peters sê dit voel nou nog vir haar onwerklik.

“Dit voel steeds asof hy gaan huis toe kom. Toe ek sy lyk uiteindelik die volgende dag gaan uitken, het ek met hom gepraat asof hy nog lewe,” sê sy.

Die paartjie was ongeveer ses jaar getroud en het vier kinders.

“My kinders is gebroke. Die tweejarige weet nog nie mooi wat gebeur het nie en vra aanmekaar na sy pa,” sê Peters.

Sy sê sy verstaan nie hoe mense niks raakgesien het nie.

“Ek los dit in die Here se hande. Maar as daar iemand is wat weet wat gebeur het, asseblief, gaan vertel die polisie. Doen dit vir my en my vier kinders. Ons is nou sonder ’n man en pa,” sê sy.

Meer oor:  Retreat  |  Pa  |  Vermoor  |  Trein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.