Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa van 5 en steunpilaar van dorp in winkel vermoor

’n Sakeman van Bethlehem in die Oos-Vrystaat se vrou en pa het Saterdag op sy lyk in sy hardewarewinkel in die dorp afgekom nadat hy na bewering vroeër die middag vermoor is.

Gerard de Boer (45), eienaar van Solomons Mica, se lyk is omstreeks 18:45 deur sy pa, Henk, en vrou, Lize, gevind.

Die vermoede bestaan dat hy verwurg is.

Gerard de Boer.

Konst. Puleng Lebakeng, ’n polisiewoordvoerder, sê De Boer, wat die winkel saam met sy pa bestuur het, is vermoedelik tussen 12:45 en 16:30 vermoor en sy lyk is eers omstreeks 18:45 gevind.

Volgens haar het De Boer se vrou onraad vermoed toe hy nie op sy gewone tyd by die huis opdaag nie. Sy het haar skoonpa gebel en albei is na die winkel om ondersoek in te stel.

Hulle het op hom afgekom waar hy in sy kantoor gelê het en het die polisie en nooddienste gebel. Paramedici het De Boer op die toneel dood verklaar.

Niks uit die winkel is tot dusver as vermis of gesteel aangemeld nie, sê Lebakeng.

Die egpaar het vyf jong kinders. De Boer was ook die voorsitter van die Laerskool Jordania in Bethlehem se beheerliggaam.

André Smith, skoolhoof, het op die skool se Facebook-blad hul medelye teenoor De Boer se familie uitgespreek.

“Mnr. Gerard de Boer, jare lange beheerliggaamvoorsitter van die skool, is gister oorlede. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Lize, die kinders en al die ander familie en vriende.

Gerard de Boer, eienaar van Solomons Mica op Bethlehem, is Saterdag in sy winkel vermoor. Foto: Argief

“Hy het diep spore by Jordania getrap en altyd meer as sy deel gedoen. Sy nalatenskap by die skool en aandeel in die skool se suksesse is enorm. Hy gaan beslis gemis word,” skryf Smith.

Dana Roothman het ook op Facebook geskryf: “Dit is so onnodig! ’n Ramp vir ons dorp. Die De Boers was en is deel van die gemeenskap vir soveel jare en het net goed gedoen, nie net in besigheid nie, maar aan soveel in die gemeenskap.

“Ons diepste meegevoel aan sy ouers, gesin en familie. Mag God julle deur hierdie tyd van beproewing dra en versterk.”

Jolanda du Preez skryf: “So ’n groot skok! Gerard, jy was ’n goeie mens. Jy het my baie geleer en ’n kans gegee toe niemand wou nie.

“Baie sterkte aan Lize en die kiddies en al die vriende en familie. Mag God julle almal veilig hou en julle vertroosting vind. God slaap nie, geregtigheid sal geskied.”

’n Klag van moord word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

* Die polisie vra enigeen met inligting wat hulle kan help in hul ondersoek, om kapt. Screamer Tshabalala, Bohlokong-speurhoof, by 083-713-7076 te bel.

Meer oor:  Gerard De Boer  |  Bethlehem  |  Vermoor  |  Winkel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.