Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa van moord aangekla ná hy rower doodskiet

’n Pa van Leeudoringstad in Noordwes het Vrydagnag ’n gewapende rower gewond en sy makker doodgeskiet in ’n verbete geveg toe ’n gewapende bende hom en sy gesin in hul huis aangeval het.

Chris Holtzhausen (44) word nou van poging tot moord en moord aangekla.

“Dit was ’n absolute stryd om oorlewing. Ek het geweet as hulle my oorrompel, gaan hulle my doodmaak en my vrou en kinders verkrag – ek moes hulle beskerm.”

Holtzhausen is erg aangerand in die aanval en het selfs van sy toonnaels verloor. Sy vrou, Elize, is met ’n koevoet oor haar lyf geslaan. Die egpaar moet altwee antiretrovirale middels gebruik nadat hulle vir MIV-toetse gegaan het.

“My oudste dogtertjie (9) is ’n held. Toe die eerste skoot klap, het sy haar sussie (3) gegryp, hulle in ’n kombers toegerol en onder ’n bed weggekruip.”

Holtzhausen se ma, Bets (68), is Vrydag begrawe nadat sy aan ’n hartaanval dood is. Van haar familie, Hennie Bear (71) en sy vrou, Vicky (78), het ná die begrafnis by die Holtzhausens oorgebly.

“Ons het wakker geskrik toe ons yorkshireterriër, wat op die bed slaap, geknor het. Toe is die inbrekers reeds in die huis,” sê Holtzhausen.

My oudste dogtertjie is ’n held. Toe die eerste skoot klap, het sy haar sussie gegryp, hulle in ’n kombers toegerol en onder ’n bed weggekruip
Chris Holtzhausen

Holtzhausen het later gesien die palissade om die huis is gebreek en ’n skuifdeur is van die spoor af getel.

Die inbrekers het klapmusse opgehad en Holtzhausen met ’n koevoet op sy regterarm geslaan. Hulle het vir geld gevra.

“Ons het gesê daar is nie geld in die huis nie.”

Bear het wakker geword van die geraas en is ook deur van die aanvallers getakel.

“Ek is oor my knieë en op my voete geslaan. Twee van my toonnaels moes verwyder word,” sê Holtzhausen.

Elize het beserings aan haar linkerarm, knieë en oor haar boude en bobene opgedoen soos sy geslaan is. Sy het ’n klapmus van een van die mans se gesig afgetrek.

Een van die man se makkers het in Afrikaans vir Elize gesê: “Los hom, ek gaan jou met ’n mes steek.”

Bear was ook in ’n verbete stryd gewikkel met van die rowers wat ’n pistool teen sy kop gedruk het.

Terwyl Elize, Bear en Vicky aangerand is het die ander mans die huis geplunder. Van Vicky se vingers is gebreek toe sy probeer terugveg het.

Holtzhausen kon in die harwar losruk en het sy pistool uit ’n kluis gaan haal. Hy het in die sitkamer twee skote geskiet.

“Ek kan nie beskryf hoe erg dit was nie, maar ek moes dit uit selfverdediging doen.”

Die vier ander inbrekers het gevlug. Die polisie het op ’n rugsak afgekom waarin gesteelde selfone, beursies, iPads en die twee kinders se horlosies was.

Holtzhausen sê sy oudste dogter is erg getraumatiseerd en weier om terug te gaan na die huis toe.

“Ons is getraumatiseerd deur my ma se dood en bo-op dit gebeur die huisrooftog toe.”

Die gesin sal berading kry.

Die polisie in Noordwes soek na die vier rowers wat gevlug het.

Sers. Kelebogile Moleko, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê dit is standaardprosedure om klagtes van poging tot moord en moord te open nadat iemand in 'n skietery gewond of dood is. Die polisie ondersoek ook 'n klagte van gewapende huisroof nadat die Holtzhausen-gesin in hulle huis in Leeudoringstad aangeval is.

Moleko sê sodra die polisie se ondersoek voltooi is sal die dossier na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur word, waar besluit sal word of  iemand vervolg sal word aldan nie.

Meer oor:  Moord  |  Rower  |  Pa  |   |  Hy  |  Doodskiet  |  Aangekla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.