’n Oos-Kaapse pa wat na bewering sjokolade met gif aan sy kinders en ’n buurman se kind gegee het, is vir moord en poging tot moord in hegtenis geneem.
Twee van dié 42-jarige pa se kinders is dood, terwyl sy derde kind in ’n bedenklike toestand in die hospitaal is.
Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die tragedie het Vrydag by die Magcakeni-nedersetting in Lidbode, sowat 35 km noordoos van Mthatha, ontvou.
Die drie seuns, tussen vier en agt jaar oud, was na bewering in die sorg van ’n buurman terwyl hul ma na Kaapstad is.
Die pa van die seuns het blykbaar Vrydagmiddag by die buurman se huis opgedaag en sjokolade uitgedeel aan sy drie kinders, asook die buurman se kind. Nadat hulle dit geëet het, het die kinders begin siek word.
Kinana sê die vermoede is dat die sjokolade die insek- en knaagdierdoder aluminiumfosfied bevat het.
Volgens die polisie is een van die pa se kinders op pad na die hospitaal dood, terwyl nog een van sy kinders by die hospitaal dood is. Sy derde kind word steeds in die hospitaal behandel.
Die buurman se kind (5) is later in ’n bestendige toestand ontslaan.
Die name van die 5- en 8-jarige slagoffers is nog nie bekend gemaak nie.
Kinana sê die polisie se aanvanklike ondersoek dui daarop dat die drie seuns se ouers nie oor die weg kom nie. Maar die polisie moet nog vasstel of die vergiftiging met voorbedagte rade gedoen is.
Verdere ondersoekwerk het die polisie Saterdagoggend vroeg na die plaaslike Renny-nedersetting gelei, waar die pa van die seuns in hegtenis geneem is. Hy sal Maandag in die landdroshof in Libode voorkom.
Genl.maj. André Swart, waarnemende polisiekommissaris van die Oos-Kaap, het sy skok oor die voorval uitgespreek. Hy het ook die inhegtenisneming binne 24 uur ná die voorval verwelkom.