Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pa voor kinders doodgeskiet toe hy hulle wou beskerm
Ronwille Jooste, wat Woensdagaand deur ’n gewapende inbreker in sy huis in Jamestown, Stellenbosch, doodgeskiet is.

Hy is voor sy gesin doodgeskiet terwyl hy voor sy kinders gestaan het om hulle te beskerm teen die gewapende inbreker.

Ronwille Jooste (38) van Jamestown buite Stellenbosch het in die portaal van sy huis voor sy gesin sy laaste asem uitgeblaas.

Die gewapende rower het met net die gesin se selfone gevlug.

Arnold Okkers, Jooste se neef, het Donderdag gesê ’n gemaskerde man het Woensdag kort ná 19:00 deur ’n oop slaapkamervenster geklim en by die huis ingekom. Hy het ’n wapen gehad.

In die huis het die man vir Jooste, sy vrou, Janine, hul drie kinders en sy skoonma met die vuurwapen aangehou.

Die man het toe reeds ’n selfoon in ’n handsak gekry in die kamer waar hy by die huis ingekom het. Hy het dit by hom gehad.

Volgens Okkers het die man geld gesoek en ook hul selfone gevra.

Daar was egter geen geld in die huis nie.

Hy het gesê die man het gedreig dat hy die kinders sou skiet as hulle hom nie geld of hul selfone gee nie. “Dit is toe dat Ronwille voor die twee seuns gaan staan het.”

Ronwille Jooste in die groentetuin van die Jamestown Food Drive-inisiatief waarby hy sedert die begin van die staat van inperking betrokke was.

Soos die man by die voordeur uitgevlug het, het hy geskiet en Jooste is getref.

“Janine-hulle het onmiddellik na die bure oorkant die pad gehardloop. Een van die bure is ’n verpleër. Maar hy het gesê daar is niks wat hy kan doen nie.

Ronwille was reeds dood.”

Jooste se broer, Shane Jooste, het Donderdag gesê hy weet ongelukkig nie wat gebeur het nie.

“Ek is tans in die hospitaal met Covid-19. Ek is nog self in die duister en is net ingelig dat Ronwille geskiet is ná ’n poging tot roof by sy huis.”

Shane het sy broer as ’n rustige, stil mens beskryf.

“Enige mens kon enige tyd op sy knoppie druk.”

Okkers het dit bevestig.

“Ronwille was regtig ’n goeie mens. Hy het nou in die tyd van inperking by die Jmestown Food Drive betrokke geraak en was elke dag by wanneer ons kos voorberei en uitgedeel het. Hy was nog Woensdagaand by toe ons sop uitgedeel het en het gehelp om die potte te was toe ons klaar was. Ons het teen 18:00 klaargemaak.”

Jooste se vrou het sy lyk Donderdag in die Paarl gaan uitken.

“Ek het gereël dat almal Vrydag vir berading gaan. Ons moet haar en die kinders nou bystaan,” het hy gesê.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het die voorval bevestig. Sy het gesê ’n moord word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.