’n Paar tekkies is blykbaar al wat weg is by ’n dubbelmoordtoneel in Port Elizabeth se Helenvale-gebied.
Die lyke van Mark Damons (50) en sy vriendin, Tersia Malgas (42), is Dinsdag in die vroeë oggendure op hul bure se stoep in Elkweg aangetref.
Albei is in die kop geskiet.
’n Bron, wat in die gebied woon, sê hulle het die oggend een skoot gehoor, toe ’n vrou se gil en toe nóg ’n skoot.
Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, word Damons se tekkies vermis. Sy familie het aan die polisie gesê hy het Maandag ’n nuwe paar tekkies gekoop.
Naidu sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat Damons hom teen die aanvallers verset het wat dalk sy tekkies wou steel. Tog kan daar nog nie met sekerheid gesê word roof was die motief vir die moorde nie, omdat Damons se geld in sy broeksak nie gesteel is nie.
Intussen het die eienaar van die betrokke huis aan die polisie gesê sy het tussen 00:15 en 00:30 skote rondom die huis gehoor, maar het uit vrees nie onmiddellik ondersoek ingestel nie. Die eienaar sê sy het sowat drie uur later opgestaan en toe die paartjie op die stoep aangetref.
Dit is nog onduidelik hoekom hulle op hul bure se stoep was, maar daar word vermoed hulle het moontlik by die verkeerde huis ingestap voordat hulle aangeval is.
Die polisie het Woensdag ’n dringende beroep op die gemeenskap gedoen vir enige inligting wat hulle in die dubbelmoordsaak se ondersoek kan help.
Speursers. Mario Malgas kan gebel word by 082 442 1816, of die Gelvandale-polisiekantoor by 041 402 2050.