Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
PAC voor gelykheidshof oor ‘een setlaar, een koeël’

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gaan die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) voor die gelykheidshof daag oor die slagspreuk “een setlaar, een koeël” wat hy verlede week in sy protesaksie by die Hoërskool Brackenfell gebruik het.

Die MRK het op ’n nuuskonferensie gesê daar is prima facie-bewyse vir ’n saak teen die PAC oor die slagspreuk wat in die party se protesaksie teen rassisme by die skool gebruik is.

Die betoging het gevolg ná ’n matriekpartytjie wat volgens die betogers net vir wit leerlinge gehou is.

André Gaum, kommissaris van die MRK, het gesê die kommissie het sowat 20 klagtes, wat verband hou met die matriekafskeid en die daaropvolgende geweld by die skool in Brackenfell, ontvang.

’n PAC-vlag het verlede week gewapper terwyl betogers in die rigting van die skool gestap het. Foto: Jaco Marais

’n String van dié klagtes hou verband met die EFF-ondersteuners wat “shoot the farmer, shoot the boer” buite die skool gesing het.

Gaum sê die kommissie en die gelykheidshof het vroeër reeds beslis dat dié slagspreuk haatspraak is.

Hy sê hulle sal ondersoek instel na die beskuldigings van rassisme en diskriminasie in die skool, wat tot die PAC en die EFF se betogings, asook die daaropvolgende geweld en die optrede van die polisie gelei het.

Volgens Gaum gaan die MRK ook na die EFF-LP Nazier Paulsen se kommentaar op sosiale media en die EFF-leier, Julius Malema, se beweerde dreigemente teen die polisie kyk.

Gaum het gesê die kommissie het reeds met die hoof van Hoërskool Brackenfell en die voorsitter van sy skoolbeheerliggaam (SBL) vergader. Hulle het bewerings van rassisme en diskriminasie by die skool ontken en gesê die skool het ’n diversiteitskomitee.

Gaum het gesê die kommissie het twee weke gelede ’n onaangekondigde inspeksie by die skool gedoen, en het aan die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) en die skool oor die aantygings van rassisme en diskriminasie geskryf. ’n Vergadering is met die twee instansies belê, asook die skoolbeheerliggaam om die saak in diepte te ondersoek.

Die SBL-voorsitter het ook ingestem om sensitiwiteitsopleiding vir skoolpersoneel en leerlinge te oorweeg.

Die kommissie is besig om ’n beraad oor die toenemende rassespanning en rassepolarisasie in die land te reël omdat dit ’n sistemiese kwessie is, wat nie net tot die Hoërskool Brackenfell beperk is nie,

Gaum sê hul monitors was Vrydag tydens die EFF protesaksie by die skool en het kennis geneem van die polisie se gebruik van skokgranate en waterkanonne om die betogers uiteen te jaag.

Die monitors het egter nie die beweerde plundering van winkels en vernietiging van eiendom eerstehands gesien nie, en die kommissie het nog geen klagtes oor dié aantygings ontvang nie.

Gaum het mense met inligting oor die plundery versoek om die kommissie te kontak.

“Die kommissie is besig om ’n beraad oor die toenemende rassespanning en rassepolarisasie in die land te reël omdat dit ’n sistemiese kwessie is, wat nie net tot die Hoërskool Brackenfell beperk is nie,” het Gaum gesê.

Eerw. Chris Nissen, kommissaris van die MRK, het gesê terwyl mense die volle reg het om te betoog vra die MRK dat politieke partye wegbly van die skool sodat die leerlinge met die waardigheid wat hulle verdien eksamen kan skryf.

Wanneer mense betoog, moet dit vreedsaam wees. Wat ek en baie van my kollegas gesien het, was mense met byle, gholfstokke, stokke en klippe wat na die polisie geslinger is.

Nissen het gesê die owerhede het verlede Vrydag met groot selfbeheersing opgetree.

“Wanneer mense betoog, moet dit vreedsaam wees. Wat ek en baie van my kollegas gesien het, was mense met byle, gholfstokke, stokke en klippe wat na die polisie geslinger is,” het Nissen gesê.

Die plakkaat met die “een koeël, een setlaar” slagspreuk Foto: Verskaf

Adv. Tseliso Thipanyane, uitvoerende hoof van die MRK, het Suid-Afrikaners versoek om verbind te bly tot die projek om eenheid te bou, ’n nie-rassistiese samelewing te bevorder en iets aan die wanbalanse te doen.

Hy het gesê Suid-Afrika kan nie ’n toename in rassepolarisasie bekostig nie, omdat dit nie die Suid-Afrika is waarvoor Mandela baklei het nie.

Prof. Bongani Majola, voorsitter van die MRK, het gesê dit lyk asof daar ’n kommerwekkende kultuur in die land is waar die landswette nie meer gerespekteer word nie. Dit is gevaarlik vir die land se demokrasie.

“Ek is baie bekommerd oor die wetteloosheid wat in proteste gesien word,” het Majola gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.