Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Padvrag: ‘Misdaad knak bedryf’

Altesaam 320 mense is die afgelope jaar in die padvragbedryf dood weens misdaad en gewelddadige protesoptrede. Dit is feitlik iemand elke dag. Dit kos die ekonomie miljarde rande.

Volgens die Padvragvereniging is minstens 1 300 vragmotors in dieselfde tydperk vernietig of beskadig tydens diensleweringsbetogings. Gepaardgaande skade aan eiendom word op byna R1 miljard geraam en die koste van vervoervertragings het die bedryf nog R1,5 miljard gekos, sê Gavin Kelly, bestuurshoof van die vereniging.

Vragmotordrywers dring toenemend aan op gevaartoelae wat tesame met bykomende koste vir sekuriteit en stygende versekeringskoste die vervoerbedryf se bedryfskoste opjaag.

Rapport het verlede week berig oor die Caledonse vragmotorbestuurder Pieter Plaatjies (54) wat onder ’n klipreën moes vlug nadat hy sy vragmotor op die Van der Stel-pas tot stilstand gebring het eerder as om betogende kinders dood te ry. Die lorrie is uiteindelik met petrolbomme bestook en vernietig. Dit het sy werkgewer, LM Vervoer, sowat R3 miljoen gekos.

Volgens berigte is drie vragmotors Donderdag naby Steynsburg in die Vrystaat aan die brand gesteek. Die drywers het gevlug en in die polisiekantoor gaan skuil. Een van hulle is lig beseer toe ’n klip hom teen die kop getref het. Een van die lorries het hoenders na Durban vervoer en die gemeenskap het glo die vrag geplunder.

’n Vragmotor wat eetgerei vervoer het is ook Donderdag in Soshanguve buite Pretoria aan die brand gesteek en die skade is deur die polisie op R700 000 geraam.

Die Herald Live het op 4 April berig dat ’n vragmotorbestuurder oorleef het toe ’n persoon in ’n mislukte kaping op hom geskiet het, terwyl ’n ander twee dae vantevore hospitaal toe is nadat hy in ’n kaping geskiet en vir dood langs die pad gelaat is.

Die vlaag van misdaad en geweld is besig om die padvragbedryf, wat 88% van die land se goedere vervoer, te knak, sê die ekonoom Mike Schüssler. Hy sê die krisis wat misdaad in die padvragbedryf meebring, is vergelykbaar met die Eskom-krisis, net minder sigbaar.

“In ’n moderne ekonomie is vervoer so nodig soos elektrisiteit. Dis die lewensaar van die ekonomie,” sê hy. “Almal is afhanklik van die bedryf. Vragmotors laai materiaal by fabrieke af en die voltooide produk word op dieselfde manier na die koper of mark geneem,” sê hy.

As vragmotors nie kan ry nie, kry arm mense nie brood en melk nie en boere kan nie hul produkte by die mark kry nie.

Schüssler sê vervoeroperateurs sukkel om die bykomende koste na die eindverbruiker deur te gee, want kliënte soos kleinhandelaars bied weerstand. Die bedryf werk tans teen ’n gemiddelde nabelaste winsgrens van net 0,3%, sê hy.

Omdat die hele Suider-Afrika se padvervoerstelsel geïntegreer is, maak verbruikers in buurlande soos Lesotho, eSwatini (Swaziland), Zimbabwe, Mosambiek en selfs Tanzanië ook staat op Suid-Afrika se padvervoerbedryf.

Pieter Kassimatis, eienaar van die PKM-vervoermaatskappy in Pretoria, het aan Jeanne-Marie Versluis gesê hulle vervoer meubels in ’n radius van 700 km.

“Al hoe meer kliënte vra ons wat gaan gebeur as daar ’n betoging is wat die vervoer gaan beïnvloed of as die trok gekaap sou word.” Die kliënt moet bykomende vragversekering spesifiek hiervoor uitneem.

Kassimatis sê sy bestuurders moes al ompaaie ry om betogings te omseil. Al hul bestuurders is op ’n WhatsApp-groep sodat hulle mekaar kan waarsku. Hulle word geleer om die pad vorentoe dop te hou sodat hulle betyds sien as daar moeilikheid is en hopelik nog kan afdraai.

Lizette Lancaster van die Instituut vir Sekerheidstudies sê die indirekte impak van misdaad en geweld op mense se geestesgesondheid, verhoudings, werk­prestasie en gesondheid kan moeilik gemeet word. Sy sê geweld het deel geword van die Suid-Afrikaanse psige. Dit is vir mense normaal en hulle weet nie meer hoe om probleme sonder geweld op te los nie.

Meer oor:  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.