Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Padwerkers bel polisie toe 4 op plaas toeslaan

Oplettende padwerkers in die Langkloof het moontlik ’n plaasaanval afgeweer deur die polisie te kontak.

Só meen Shayne Turner (43), die bestuurder van ’n plaas sowat 7 km buite Kareedouw in die Oos-Kaap. Hy was nie tydens die voorval by die plaashuis nie, maar sê sy kinders óf vrou kon op daardie oomblik by die huis opgedaag het.

Werkers wat roetine-opknappingswerk op die R62 in die Langkloof, net buite Kareedouw doen, het Dinsdagmiddag waarskynlik ’n plaasaanval afgeweer. Foto: Ter illustrasie

“Daar was Gods genadiglik niemand by die huis nie. Ek was by die kantoor, onder by die melkstalle. Maar soms besluit my dogter (12) sy wil ná skool nie na die kantoor toe kom nie, maar eerder haar huiswerk by die huis doen . . . As iemand by die huis was, sou iemand definitief seergekry het.”

Die werkers was met roetine-opknapwerk aan die R62 net buite Kareedouw in die rigting van Joubertina besig en het rondom 13:00 gesien hoe ’n Volkswagen Polo-motor ’n groep mans by die plaas aflaai.

Kort daarna het die padwerkers gesien hoe dié groep mans rondom die plaashuis beweeg en hulle het die polisie gekontak.

Sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, sê vier mans het van die toneel die bosse ingevlug toe die polisie daar opdaag.

Die polisie se honde-eenheid het die bosse onmiddellik begin gefynkam.

Turner was toe nog onbewus van die probleme by die huis.

“Die polisie het my so 13:10 gebel en laat weet daar is by die huis ingebreek.

“By die huis het ek gesien hoe omgekrap die huis is en my skootrekenaar was weg.”

Sy plaaswerkers het ook dadelik ingespring om te help soek na die inbrekers.

“Een van my plaasbestuurders het ’n man bo in die kloof vasgekeer. Die polisie en hul honde het nóg twee mans onder in die kloof gevang,” sê Turner.

Een van die inbrekers het weggekom. Die Polo-motor en die motorbestuurder, wat die groep by die plaas afgelaai het, word nog gesoek.

’n Skootrekenaar, klere en juwele wat tydens die huisbraak gesteel is, is teruggevind.

Turner het Woensdag sy dankbaarheid vir die polisie se spoedige reaksie uitgespreek, asook die padwerkers vir hul oplettendheid geprys.

Die drie mans wat vasgetrek is, is nie aan Turner bekend nie en glo almal buitelanders wat in Oos-Londen woon.

Volgens Nkohli sal die drie mans, wat tussen die ouderdom van 24 en 34 jaar is, Donderdag op aanklagte van huisbraak en diefstal in die hof voorkom.

Meer oor:  Langkloof  |  Aanval  |  Plaas  |  Polisie  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.