Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Panayiotou: ‘Dorp armer sonder goeie Costa’
Danie Jonck, ’n familievriend van die vermoorde Costa Panayiotou. Foto: Lulama Zenzile

Tot ’n dag voor sy dood, het Costa Panayiotou nog in sy seun Christopher se onskuld geglo en gehoop om dit te help bewys.

Dit was soos dikwels tevore Sondag waaroor Costa Panayiotou (67), ’n sakeman van Uitenhage en die pa van die veroordeelde moordenaar Christopher, en Danie Jonck (75), ’n vriend van die gesin, oor sowat drie koppies tee gepraat het.

Ure later het onbekende mense Panayiotou in die vroeë oggendure van Maandag voor sy winkel, Bambi Snack Bar, in Markstraat in Uitenhage doodgeskiet.

“Die dorp, eintlik nog baie ander dorpe, is vandag baie armer sonder die goeie mens wat Costa was. Hy was ’n man met ’n baie groot hart, wat mense gehelp het sonder om twee keer te dink,” het Jonck Maandagmiddag gesê uit sy onderneming wat net om die hoek van Panayiotou se winkel is.

Hy was ’n man met ’n baie groot hart, wat mense gehelp het sonder om twee keer te dink.
Costa Panayiotou hou sy seun, Christopher vas terwyl hy in die beskuldigdebank van die landdroshof in Port Elizabeth sit kort nadat hy in verband met Jayde se moord aangekeer is. Voor hulle staan adv. Terry Price, SC, wat Christopher verteenwoordig het in die hof. Foto: Lulama Zenzile

Hulle het mekaar sowat 35 jaar gelede in Uitenhage ontmoet en bykans dadelik vriende geraak.

“Ek was daardie tyd nog in die (polisie)speurdiens. Ek het met die vorige eienaar van Bambi gepraat toe die jong, maer Griek daar in die straat met sy klein sportmotor voor die winkel stilhou. Costa het homself baie vriendelik voorgestel en gesê hy oorweeg dit om die Bambi te koop.”

Van daar af het hul vriendskap gegroei en was daar bykans nie ’n dag dat hulle mekaar nie gesien het nie.

Hy sê Costa het op 14-jarige ouderdom saam met familie van Ciprus na Johannesburg verhuis, waar hy van staanspoor hard gewerk het om homself tot sakeman op te bou.

Jonck het ook gereeld saam met die Panayiotou-familie in die voorste ry van die hooggeregshof in Port Elizabeth gesit om hulle, asook vir Christopher, te ondersteun terwyl dié vir die moord op sy vrou, Jayde, verhoor is.

“In al daardie tyd het nie Costa of Fanoulla (Costa se vrou en Christopher se ma) ooit gereageer op enige van die lelike goed wat mense na hul kant gegooi het nie.

“Daar het soveel mense by hul winkel inkom en hulle sleg gesê. Maar hulle het nooit gereageer nie. Costa het net gesê ‘die mense is in pyn, hulle is kwaad en ons moet hulle net vergewe’.”

’n Stukkie polisielint was Maandag die enigste teken van die dodelike rooftog vroeër die oggend voor Costa Panayiotou se winkel in Markstraat, Uitenhage. Foto: Lulama Zenzile

Christopher is in November 2017 as die baasbrein agter Jayde, ’n onderwyseres by die Riebeek College Girls’ High School in Uitenhage, se huurmoord skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Sy ouers en Jonck het nagte lank deur dokumente gesif om Christopher se onskuld te probeer bewys.

In Augustus het die konstitusionele hof Panayiotou se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys, toe tien regters bevind daar is geen redelike vooruitsig dat Panayiotou se aansoek sal slaag nie.

Ondanks dié uitspraak is ’n ondersoek deur die familie steeds aan die gang, maar Jonck glo nie Costa se moord hou hiermee verband nie.

“Ek glo Costa se dood was ’n geleentheidsmoord. Die doel was om sy motor te kaap. Ongelukkig het iemand haastig opgetree en Costa is toe geskiet,” sê Jonck.

Fanoulla het Maandag alle navrae na hul prokureur, Alwyn Griebenow, verwys.

Griebenow was ook die prokureur wat Christopher saam met adv. Terry Price, SC, tydens die Jayde-moordverhoor verdedig het.

Volgens Griebenow is die familie getraumatiseer ná Panayiotou se skietdood.

Costa Panayiotou se gekaapte motor wat Maandagoggend verlate in Motherwell in Port Elizabeth aangetref is. Foto: Lulama Zenzile

“Geskok, hartseer, getraumatiseer. Dit is ’n verskriklike ding wat gebeur het en gaan tyd neem om te verwerk.

“Niemand het verwag dat so iets sal gebeur nie.”

Die familie wag nog op antwoorde van die polisie oor wat die moontlike motief kan wees en wie die moordenaars is.

Griebenow sê hulle hoop en vertrou Panayiotou se moord dieselfde prioriteit sal geniet as die ondersoek na Jayde se moord.

Teen Maandagmiddag het die polisie nog geen deurbraak in hul ondersoek na die voorval gemaak nie.

Brig. Tembinkosi Kinana, provinsiale polisiewoordvoerder, het ook gesê daar is nog geen inligting wat daarop dui dat Panayiotou se moord enigsins verband hou met Christopher in die tronk of Jayde se moord nie.

Die polisie het vroeër Maandagoggend gesê Panayiotou was die oggend besig om sy winkel te sluit en hy en ’n vrou, wat hy sou gaan aflaai, was op pad na sy motor oorkant die straat toe hy aangeval is.

Hy is in die bors geskiet en op die toneel dood.

Sy Volkswagen Polo is deur die aanvallers gesteel en die werknemer is ontvoer.

Die polisie het later die oggend die gekaapte motor in die NU 9-gebied in Motherwell gekry. Volgens ’n ingeligte bron is albei die nommerplate verwyder en was daar bloedspatsels aan die bestuurdersitplek.

Danie Jonck raak bewoë wanneer hy oor sy jare lange vriendskap met Costa Panayiotou praat. Foto: Lulama Zenzile

Die ontvoerde vrou is ook Maandagoggend in KwaZakhele gevind. Sy is glo verkrag voordat sy naby ’n taverne in die gebied afgelaai is.

Sy het ’n ent gehardloop en by die taverne uitgekom.

Die eienaar van die taverne, wat nie genoem wil word nie, het Maandagoggend aan Netwerk24 gesê die vrou het histeries gehuil toe hy haar buite die gebou sien.

Hy het die polisie ontbied en sy selfoon vir die vrou gegee om haar familie te bel.

Klagte van verkragting, moord, ontvoering en kaping word deur die polisie ondersoek.

Intussen het Nobuntu Gantana, provinsiale woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), gesê as Christopher sy pa se begrafnis wil bywoon, sal hy om deernisverlof moet aansoek doen. Die DKD sal daarna oor die aansoek besin.

* Enigeen wat inligting oor die moord op Panayiotou het, kan kapt. Josh Victor by 082 319 9204 óf 041 922 0723 bel.

Meer oor:  Costa Panayiotou  |  Christopher Panayiotou  |  Uitenhage  |  Rooftog  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.