Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pangaman 'storm Pelonomi-hospitaal binne'

Personeel van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein is woedend ná die jongste geweldsvoorval die naweek waarin ’n man Saterdagaand glo die ongevalleafdeling van die hospitaal met ’n panga in die hand binnegestorm het.

Die man het dokters en personeel met ’n panga gedreig – terwyl daar volgens personeel geen veiligheidswagte in sig was nie. Dié voorval, asook die afwesigheid van veiligheidswagte, word egter deur die Vrystaatse gesondheidsdepartement ontken.

pelonomi-hopitaal
Die foto toon volgens dokters dat daar geen veiligheidspersoneel in die omgewing was toe ’n man met ’n panga Saterdagaand personeel en pasiënte in die Pelonomi-hospitaal se ongevalleafdeling gedreig het nie.

Die personeel, wat daarin geslaag het om die man met die panga te verdryf, vrees nou nog meer vir hul veiligheid, asook vir dié van pasiënte.

Die jongste beweerde voorval volg op twee pogings tot verkragting by dié hospitaal en ’n gewapende rooftog by die noodhelikopter se landingstrook by Pelonomi. Dit kom boonop in dieselfde week as wat Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, in haar provinsiale rede beloof het dat strenger veiligheidsmaatreëls by hospitale ingestel sal word.

Sy het ook die dokter wat onlangs ’n man se tong afgebyt het wat haar by Pelonomi wou verkrag, in die Vrystaatse wetgewer gelukgewens.

“Hy sal eendag vir sy kleinkinders moet verduidelik hoekom hy nie ’n tong het nie,” het Ntombela gesê.

Die beweerde panga-aanval Saterdagaand kom boonop nadat die Universiteit van die Vrystaat (UV) onlangs sy mediese studente tydelik aan die Pelonomi-hospitaal onttrek het.

Ná onderhandelinge waarin bepaalde versekeringe oor die veiligheidsituasie by die hospitaal gegee is, het studente ’n dag later hul opleiding by Pelonomi hervat. Die UV verskaf nou nogtans saans ’n tweede stel veiligheidswagte.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het by navraag gesê hy is nie bewus van die voorval Saterdagaand nie. Hy versoek dat dokters en verpleegsters met inligting vorendag kom sodat dit ondersoek kan word.

Netwerk24 verneem egter die voorval is wel deur ’n senior dokter aangemeld.

Mvambi ontken verder dat daar nie veiligheidspersoneel was toe die aanvaller die ongevalleafdeling sou binnegestorm het nie.

Dokters van die hospitaal, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisasie, het egter foto’s aan Netwerk24 gewys wat die leë sitplekke toon van die veiligheidspersoneel toe die voorval Saterdagaand omstreeks 20:00 sou plaasgevind het.

Mvambi sê die veiligheidspersoneel is nie gebonde aan sitplekke nie. Hulle kon in daardie stadium elders diens gedoen het.

Volgens Mvambi weet die hospitaal slegs van ’n ander voorval Sondag deur die nag toe ’n man met ’n kierie by die hospitaal opgedaag het. Dié man was op soek na ’n pasiënt by ongevalle.

“Die personeel het onmiddellik die beheerkamer oor die voorval gebel en het die trauma-eenheid daarvan verwittig.”

Die veiligheidswagte het die man onderweg na ’n uitgangshek gevind en oor sy wapen gekonfronteer.

“Die man het kalm aan die veiligheidspersoneel verduidelik dat sy broer die naweek in ’n geveg was en dat hy op soek na hom was. Sy broer het hom gevra om sy motor van die parkeerterrein van die hospitaal weg te neem om moontlike getuienis oor ’n geveg buite die grense van die hospitaal te verdoesel.”

Die man het die kierie uit die motor gaan haal en is daarmee die hospitaal binne, sê Mvambi.

“Die veiligheidswagte was heeltyd teenwoordig en het flink opgetree. Daar was geen bedreiging nie.”

Personeel by die hospitaal ontken dat dit dieselfde voorval was.

Die panga-aanval is by die Suid-Afrikaanse Mediese Raad (SAMR) aangemeld, sê ’n dokter.

Intussen is Pelonomi se dokters en verpleegpersoneel woedend oor wat hulle as totaal gebrekkige veiligheidsmaatreëls by die hospitaal beskryf. Hulle vrees dat daar eers ’n moord sal moet plaasvind voordat die hospitaalbestuur en Vrystaatse gesondheidsdepartement sal optree, het ’n dokter aan Netwerk24 gesê.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bloemfontein  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.