Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Papegaai helder oordag met hok en al weggedra

Waar is Einstein en wie het hom gevat?

Dít wil Eric Meiring van Randburg steeds weet vyf maande nadat sy papegaai van sy stoep af gesteel is.

Eric Meiring wys waar Einstein, sy African Grey-papegaai, in sy hok was toe hy gesteel is. Foto: Deon Raath

Beeldmateriaal van die Laerskool Fontainebleau se veiligheidskameras wys hoe twee mans die middag van 2 Maart in ’n wit Citi Golf verby Meiring se huis ry. Dan ry hulle stadig agteruit en hou voor die huis stil.

Die papegaaidiewe – in kortbroeke, T-hemde en plakkies – klim uit en kyk oor die muur. Een hou wag terwyl die ander by die erf ingaan en die voëlhok uitdra. Dan jaag hulle weg.

Meiring vertel hy het Einstein dié dag oudergewoonte in sy hok op die stoep gesit voordat hy en Martha, sy vrou, gaan inkopies doen het.

Hulle was sowat 40 minute lank weg.

“Ek was van my kop af toe ons terugkom en Einstein en sy hok skoonveld was. Ons het dadelik in ons motor gespring en in die strate op en af gejaag. Ons het die volgende dag honderde pamflette in ’n radius van tien kilometer by petrolstasies, parkeerruimtes en winkelsentrums uitgedeel, maar dit was alles vergeefs.”

Meiring het daarna in aanraking gekom met die organiseerders van PetConnect Rescue, ’n groep wat mense help om hul troeteldiere terug te vind.

Einstein, ’n African Grey-papegaai, is in Maart in Randburg gesteel. Foto: Verskaf

“Hulle het my aangeraai om uit te vind of enigiemand in die omgewing dalk videomateriaal van die insident afgeneem het. Ek het toe uitgevind dat die laerskool se veiligheidskameras dit wel gedoen het.”

Die gehalte van die beeldmate­riaal is ongelukkig nie goed genoeg nie om die motor se nommerplate te identifiseer nie, sê hy.

Meiring het ’n Facebook-blad, “Help Bring Einstein Home”, geopen en die video daarop geplaas. Dit is al meer as 1 500 keer gekyk. Hy het ook ’n klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak en ’n R7 000-beloning uitgeloof vir enigiemand wat Einstein opspoor.

“Ons het geweldige ondersteuning van die publiek af gekry. Mense bel my wanneer ’n papegaai geadverteer word en wanneer hulle ’n wit Golf op straat gewaar. Ek het al die leidrade opgevolg, maar ongelukkig weet ek nog steeds nie wat van Einstein geword het nie.”

In die hoop om die beloning op te eis, het drie kansvatters intussen beweer hulle het Einstein gekry. “Dit het my elke keer gebreek om hoopvol te wees en dan uit te vind mense vertel liegstories,” sê Meiring.

Hy en sy gesin het Einstein meer as 13 jaar gelede as ’n kuiken gekry. Meiring het hom hans grootgemaak en met ’n spuit gevoer. Hy ken sowat 350 woorde.

“Wanneer Einstein hoor ek is wakker dan sê hy altyd: ‘Hallo . . . maak ’n bietjie oop . . . gee soentjie, gee soentjie . . . ek is lief vir jou.’ En wanneer die son ondergaan, sê hy: ‘Ek gaan slaap . . . maak ’n bietjie toe.’

“Hy sê ook goed soos: ‘My naam is Einstein, ek is ’n papegaai, ek is ’n papegaai, ek is oulik.’ ”

Meiring kyk nou voor hom.

“Ek het slapelose nagte oor my vriend. My grootste vrees is dat hy mishandel word, of nie genoeg aandag kry nie en in ’n donker kamer weggesteek word.”

Meer oor:  Eric Meiring  |  African Grey  |  Papegaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.