Paramedici van die Wes-Kaapse departement van gesondheid is Donderdagoggend in Kaapstad onderweg na ’n pasiënt beroof.
Die provinsiale mediese nooddienste (EMS) het die voorval om 06:20 in Better Life, Philippi-Oos, veroordeel, waarin ’n man en vrou in ’n ambulans geteiken is.
Die paramedici is van hul persoonlike besittings beroof en erg getraumatiseer, maar ongedeerd, luidens ’n verklaring van die EMS. Hulle kry berading.
Twee vermeende rowers in ’n swart Citi Golf het die ambulans voorgekeer en die paramedici met vuurwapens genader.
“Hulle kon nie toegang tot die ambulans verkry nie en het toe die venster aan die bestuurder se kant gebreek en die deur oopgemaak. Twee selfone, twee beursies en ’n sak is geneem.”
Polisielede het een van die paramedici se sak later buite die ambulans gevind.
Volgens die EMS het aanvalle op mediese nooddienste sedert einde Maart toegeneem en was daar sedert 1 Januarie al 19 aanvalle op EMS-personeel.
“Die meeste aanvalle lei nie tot ernstige beserings nie. EMS-lede ervaar egter trauma, en vrees vir hul lewe terwyl hulle hul pligte uitvoer. Hul stel daagliks hul lewe op die spel om in die gemeenskap lewens te red.”