Twee provinsiale paramedici van die Wes-Kaap is vroeg Vrydagoggend aangeval toe hulle op ’n noodoproep in Nyanga gereageer het.
“Hulle is met vuurwapens gedreig en hul besittings is gesteel. Niemand is beseer in die aanval wat ná 07:00 plaasgevind het nie,” sê Byron La Hoe, woordvoerder van die nooddiens, in ’n verklaring.
Die twee, ’n man en ’n vrou, het sedertdien ’n saak in die Nyanga-polisiekantoor aanhangig gemaak en dit word ondersoek.
As gevolg van die aanval is Nuwe Kruispad en Philippi vir die volgende 24 uur tot rooi sones verklaar, sê La Hoe. Dit kan tot vertragings lei aangesien nooddienspersoneel nie hierdie gebiede sonder polisiebegeleiding mag binnegaan nie.
“Die departement van gesondheid veroordeel die sinlose aanval op ons personeel ten sterkste. Sulke voorvalle het ’n verwoestende invloed op die werk van ons nooddiens,” sê La Hoe.
“Dikwels vind hierdie aanvalle plaas in uiters kwesbare gemeenskappe, waar die hulp van die nooddienste die nodigste is.”
La Hoe sê hulle doen ’n beroep op alle inwoners om nooddienspersoneel te beskerm terwyl hulle hierdie baie belangrike diens lewer.
“Meld enige geweld asseblief by die naaste plaaslike owerheid aan indien u iets sien gebeur.”