Paramedici is Vrydagoggend in Oceanview aangeval toe hulle op ’n noodoproep gereageer het.
Deanna Bessick, woordvoerder van die Wes-Kaapse mediese nooddienste, sê die voorval het omstreeks 03:00 gebeur toe die paramedici wou ry nadat hulle die pasiënt in die ambulans gelaai het.
“Die paramedikus het by die bestuurderskant van die ambulans ingeklim en die voertuig aangeskakel toe drie mans hom nader. Een van hulle het ’n vuurwapen uitgepluk en die paramedikus gedreig.”
Volgens Bessick het die paramedikus blitsig gereageer en weggejaag.
Bessick sê niemand is beseer nie, maar die paramedici is erg getraumatiseerd. Die pasiënt is na die Valsbaai-hospitaal geneem.
“Die voorval is by polisie in Ocean View aangemeld en die paramedici het berading ontvang.”
Bessick sê daar is ’n kommerwekkende toename in aanvalle op paramedici.
“In 2019 was daar 30 aanvalle en sedert Januarie tot 18 September vanjaar is daar reeds 46 aanvalle aangemeld. Volgend haar het die meeste aanvalle nie ernstige fisieke gevolge gehad nie, maar noodsaaklike gesondheidsdienste is ontwrig.
Bessick sê die aanvalle traumatiseer personeel en hulle vrees vir hul lewe terwyl hulle hul werk probeer doen.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het weer ’n beroep op die publiek gedoen om paramedici te beskerm en te ondersteun.