Twee paramedici van die Wes-Kaapse nooddienste kry berading nadat hulle Woensdagoggend in Makhaza, Khayelitsha, aangeval is.
Hulle is na ’n noodgeval uitgeroep toe drie mans omstreeks 02:15 op hulle geskiet het.
Deanna Bessick, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê die een paramedikus is skrams in die been getref.
“Een van die mans het deur die ambulans se deur geskiet en die koeël het die paramedikus skrams in die been getref. Die aanvallers het probeer om die mobiele data-terminaal uit die voertuig te steel.”
Volgens Bessick het ambulanse in die omgewing op die voorval gereageer en die aanvallers het gevlug.
“Gelukkig is die paramedici nie ernstig beseer nie. Hulle kry berading.”
Sy sê ’n nuwe gemeenskaplike benadering is nodig om veilige omgewings te skep waarin mense toegang het tot die gesondheidsorg wat hulle benodig.
“Hierdie gevalle vind dikwels in uiters kwesbare gemeenskappe plaas waar nooddienste die nodigste is. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak.”