Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Paramedici oorval, byna beroof by sentrum in Paarl

ER24-paramedici is Dinsdag deur twee mans oorval en byna beroof toe hulle gestop het om kos by ’n winkel in die Ivanhoe Park-kompleks in Paarl te koop.

Luidens ’n verklaring is die een paramedikus oomblikke nadat sy kollega uit die ambulans geklim het om kos by ’n winkel te gaan koop, deur die mans oorval.

Die mans gesê hulle is gewapen, maar hulle het nooit ’n wapen te voorskyn gebring nie, het Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, by navraag gesê.

Een van die mans het na die ander kant van die ambulans gegaan, die deur oopgemaak en deur hul persoonlike besittings gekrap.

Volgens hom kon hulle niks waardevol kry nie en het toe dié paramedikus beveel om iets te gaan koop en geld te trek. Dit was nie dieselfde winkel waarin sy kollega was nie.

“Dit lyk asof die verdagtes slegs in kontant belanggestel het,” sê Vermaak.

Hy sê die paramedikus kon nie kontant trek nie omdat die winkel moontlik nie genoeg kontant gehad het nie.

Volgens hom is die paramedikus in die winkel deur ’n ander paramedikus van die Kaapstad-metro se ambulansdienste gewaar wat hom ken.

Dié paramedikus het gevra of alles in die haak is, waarna die twee verdagtes gevlug het, sê Vermaak.

’n Saak is kort daarna by die Paarl-Oos polisiekantoor aangemeld. Polisielede het saam met hulle na die winkelsentrum teruggegaan waarná een verdagte in hegtenis geneem is, sê Vermaak.

Die polisie soek nog na die ander verdagte, maar sy identiteit is aan hulle bekend, sê hy.

“Ons is bly dat ons paramedici nie in die voorval beseer is nie en waardeer die metro-paramedikus van die ambulansdienste wat nie aan diens was nie, wat nader gestaan het en wat op daardie stadium navraag oor die situasie gedoen het,” sê Vermaak.

Volgens hom kom die diefstal van toerusting, aanvalle op paramedici en rooftogte daagliks in die mediese nooddienste voor.

Die ER24 doen ’n beroep op die publiek om die identiteit van alle verdagtes wat vir sulke voorvalle verantwoordelik is, bekend te maak.

Dit kan aangemeld word by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 of anoniem per SMS na 32211 gestuur word.

Meer oor:  Paarl  |  Ivanhoe Park-Kompleks  |  Er24-Paramedici  |  Byna Beroof  |  Oorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.