Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Psigopaat' kry parool ná hy baba laat skiet

’n Psigopaat wat sy “ongerieflike” ongebore baba op Valentynsdag in 2006 laat doodskiet het, word op Oukersdag op parool vrygelaat.

David Best tydens sy verhoor in Oos-Londen in 2007. Foto: Charles Pullen

Dít glo omdat die paroolraad onder druk van die departement van korrektiewe dienste is om tronke leër te maak voor die tweede golf van Covid-19.

David Best het 13 jaar en drie maande van sy 21 jaar-vonnis uitgedien.

Melissa Dyer (38) van Oos-Londen sê sy is steeds bang vir hom en glo nie vir een oomblik hy is gerehabiliteer nie.

Sy het destyds hul verhouding verbreek toe sy uitgevind het hy het ook ’n ander minnares. Kort daarna het sy uitgevind sy is swanger.

‘Dit blyk uit die verhoor hy is ’n psigopaat.’

Dyer (toe nog Shelver) was 38 weke swanger toe Best saam met haar ’n ginekoloog besoek het. In die parkeerterrein het Ludwe Mshumpa hulle met ’n vuurwapen gedreig en Best aangesê om na ’n afgeleë plek buite Oos-Londen te ry. Daar het Mshumpa Best in die skouer geskiet en Dyer twee keer deur haar buik van die kant af.

Die babadogtertjie, Jenna-May, is dood.

Dit het later geblyk Best is die baasbrein agter die “kaping”. Hy is nie aan moord op die baba skuldig bevind nie, want die wet maak nie daarvoor voorsiening nie, maar wel aan onder meer poging tot moord op Dyer en sameswering in die poging tot moord op homself en sameswering om twee ander mense te laat vermoor (dié moorde is nie gepleeg nie).

Adv. Malherbe Marais SC was destyds die staatsaanklaer in die verhoor. Toe hy hoor daar is sprake van parool vir Best, het hy dit namens Dyer geopponeer. Weens persoonlike oorwegings het hy die nasionale vervolgingsgesag gevra om dit by hom oor te neem.

Melissa Dyer is vandag gelukkig getroud, maar sy het jare lange sielkundige behandeling gekry nadat haar ongebore baba in 2006 in haar maag doodgeskiet is.

Hy sê dit het uit die verhoor én voor die paroolraad geblyk Best is ’n psigopaat.

Marais meen die paroolbesluit behoort op hersiening geneem te word. “Van die begin af was dit vir almal duidelik dat die paroolraad, onder voorsitterskap van ’n maatskaplike werker, klaar besluit het hulle gaan Best vrylaat.

“Die voorsitter het openlik laat blyk sy is onder groot druk van die DKD om tronke leeg te maak voor die tweede golf van Covid-19 en dat geen vertragings geduld sal word nie.

“ ’n Mens kan net dink watter leed en siviele eise uit ons belastinggeld kan voortvloei daaruit as Best weer so iets doen.

Sy het haar lewe ’n dag op ’n slag herbou.

“Dit was verontrustend om gedurende die verhoor te verneem die raad was bewus van dokumente wat in Best se eie handskrif in sy sel gevind is waarin kontrakte uiteengesit word om die verhoorregter, die aanklaer, die ondersoekbeampte en ander getuies te laat doodmaak, maar hulle het hul nie daaraan gesteur of insae daarin gehad het totdat Melissa se span aangedring het dit moet in ag geneem word en dit self voor die tribunaal geplaas het nie.”

Dyer sê sy het besluit Best sal nie meer beheer oor haar lewe hê nie en al het sy gedink sy hanteer die voorval goed, het sy skielik besef dis nie so nie.

“Ek is steeds op medikasie vir depressie en angs en kan nie daarsonder oor die weg kom nie omdat ek maklik angsaanvalle kry.”

Sy is in 2010 met haar hoërskoolliefde getroud. “Ek dink nie alle mans is monsters nie. My man het my weer veilig laat voel.”

Dyer sê sy het haar lewe destyds een dag op ’n slag herbou. “Ek het vir drie maande langs my ma geslaap, terwyl my pa in my bed geslaap het waar die kamer vir Jenna ingerig was. Daarna het ek vir nog ’n rukkie op ’n matras langs hul bed geslaap. Ek het myself stadig maar seker gedwing om alleen dinge te doen, soos om na ’n winkel of winkelsentrum te gaan.

“Ek het nog steeds hierdie gedagte wanneer ek bestuur dat iemand my agtervolg. Angs is nie ’n grap nie.”

Nobunto Gantana, woordvoerder van die departement, sê Best het meer as die minimum aanhoudingstydperk soos in sy vonnis uiteengesit, uitgedien. Sy sê hy het al die vereiste programme bygewoon, waaronder woedebestuur en lewensvaardighede en ook ’n BA-graad deur Unisa verwerf.

Hoewel ’n psigiater Best in die hof bestempel het as ’n “psigopaat met zero kans vir rehabilitasie”, sê Gantana dié inligting was nie op die profiel wat die korrektiewe toesig- en paroolraad oorweeg het nie. “Wat wel in ag geneem is, is dat die oortreder in programme in individuele psigoterapie, kindermishandeling en verkragting, geweld in die huis en gemeenskap en selfbeeld deur ’n interne sielkundige betrokke was.” Volgens sy paroolvoorwaardes mag hy Dyer op geen manier kontak of dreig nie.

Die voorsitter van ’n paroolraad wat verkies dat sy naam nie gepubliseer word nie, sê parool is ’n grys area.

Die protokol vereis raadpleging of konsultasie met slagoffers.

Slagoffers kan die vrylating op parool egter nie veto nie. As daar grondige bewyse is dat die gevangene ’n wesenlike gevaar vir die slagoffer inhou, kan daar moontlik ’n vertraging in paroolplasing wees, maar indien die gevangene aan drie basiese vereistes voldoen, moet hy of sy vir parool oorweeg en trouens uitgeplaas word: die persoon moet ’n bevestigde adres hê, die voorgeskrewe programme deurloop het en die minimum tydperk (helfte van vonnis) uitgedien het.

Die voorsitter sê die probleem is dus nie die paroolraad nie, maar die wet.

Daar is ook twee prosesse wat slagoffers betref. ’n Slagoffer kan gekontak word vir insette of voorleggings aan die paroolraad of slagoffer-oortreder-mediasie (VOM) kan plaasvind.

’n Dialoog moet tussen slagoffer en gevangene geskied of mediasie tussen die twee met die oog op afsluiting, duidelikheid, deel van inligting, vergifnis en apologie.

’n DKD-woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê gevangenes in Suid-Afrika kan vir parool in aanmerking kom nadat hulle ’n bepaalde minimum van hul vonnis in aanhouding uitgedien het.

“Basies kom ’n gevangene vir parool in aanmerking nadat die helfte van ’n vonnis uitgedien is.”

’n Deel van die vonnis kan ook in die gemeenskap, onder toesig van paroolbeamptes uitgedien word.

Nxumalo sê die feit dat oortreders vir parool in aanmerking kom, beteken nie dit word outomaties toegeken nie. Parool is nie ’n reg waarop oortreders kan aanspraak maak nie; dit moet verdien word.

Slagoffers mag ook deelneem aan die paroolproses deur 30 dae vooruit by die relevante raad vir korrektiewe toesig en parool te registreer.

Die Wet op Korrektiewe Dienste is volgens Nxumalo duidelik: Die paroolraad se besluit is finaal. Die minister of kommissaris kan die besluit egter na die raad vir korrektiewe toesig en paroolhersiening verwys.

Tronke ‘moet glo gou leër’

Paroolrade is glo onder enorme druk om die getal aangehoudenes in gevangenisse te verminder voor die tweede vlaag van Covid-19.

Dit is blykbaar een van die redes waarom een so ’n raad gevra is om ’n man wat sy ongebore baba laat doodskiet het op parool vry te laat.

Dr. Gérard Labuschagne, ’n kliniese sielkundige, kriminoloog en advokaat, sê die paroolraad kyk skynbaar na hoe die oortreder in aanhouding opgetree het.

Labuschagne sê hy is senuagtig oor hoe hulle besluite neem. “Die vonnis gaan oor vergelding. Dit lyk of hulle hul besluit baseer op hoe die oortreder nou is.”

Volgens Labuschagne is die slagoffers of hul families veronderstel om in die paroolverhoor te getuig, maar dit gebeur nie.

“ ’n Behoorlike risiko-analise behoort gedoen te word.”

Meer oor:  Ludwe Mshumpa  |  David Best  |  Melissa Dyer  |  Korrektiewe Dienste  |  Moord  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.