Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Parow-moorde: Polisie vang familielid op Struisbaai
Jesse Hess (18) en haar tante, Sandy

Die familielid van Jesse Hess (18) wat vir die dubbele moord op haar en haar oupa Chris Lategan (85) gesoek is, is Woensdag op Struisbaai in die Overberg in hegtenis geneem.

Dié man, wat in Desember op parool vrygelaat is nadat hy weens verkragting in die tronk was, het glo Maandag in Hanover Park op die Kaapse Vlakte wéér verkrag – dié keer ’n 16-jarige meisie.

Jesse Hess (18) en haar oupa Chris Lategan (85) is in Augustus in hul woonstel in Parow vermoor.

Hess, ’n eerstejaar-teologiestudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en Lategan se lyke is op 30 Augustus in hul woonstel in die Beaumont-woonstelgebou in Parow aangetref. Lategan se lyk is in die badkamer gekry met sy hande met wit verbande agter sy rug vasgemaak. Hess se lyk was in die slaapkamer.

Twee televisiestelle, sowel as Hess se handsak en selfoon, is vermis.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat ’n 31-jarige man op Struisbaai aangekeer is nadat hulle inligting van die gemeenskap ontvang het.

“Hy sal Vrydag op aanklag van verkragting en roof in die landdroshof in Athlone verskyn.”

Hess se pa, Lance, het aan Netwerk24 bevestig dat die verdagte wel dié familielid is wat met die dubbele moord verbind word.

“Dit is die outjie. Ek is bly hy is gevang. Ek hoop net daar is genoeg bewyse om hom toe te sluit,” sê Lance.

Hess se tante, Sandy, het aan Netwerk24 gesê die polisie het die familie al ’n rukkie gelede ingelig dat dié man ’n verdagte in die dubbele moord is.

“Ons het gehoop dit is nie waar nie omdat hy ’n familielid is.”

Hy het ná die dubbele moorde getrek en kontak met die familie verloor.

Maandag het dieselfde verdagte glo twee meisies in Hanover Park aangeval. Hy het een meisie vasgebind en die ander een, wat 16 jaar oud is, verkrag. Die vasgebinde meisie het haar later losgewikkel en kon weghardloop om hulp te gaan soek.

“ ’n Familielid of iemand het toe op hom afgekom, maar hy het weggehardloop,” sê Sandy.

Die familie vermoed die verdagte wat in Hanover Park gewoon het, het vermoedelik uit die gebied gevlug omdat die gemeenskap na hom soek.

Sandy sê sy het twee weke gelede by sy broer se huis van aangesig tot aangesig met die verdagte gekom.

“Ons het gegroet, maar onmiddellik geloop toe hy daar aankom. Daar is nie woorde om te beskryf hoe dit gevoel het om hom te sien nie.”

Die familie vind dit moeilik om te verwerk dat hy moontlik die moordenaar is, sê Sandy.

“Ons wonder hoekom hy dit sou gedoen het. Ons het hom niks gemaak nie.”

Meer oor:  Chris Lategan  |  Jesse Hess  |  Parow-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.