Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Parow: Nog ’n slagoffer in stegie aangeval
Hierdie skermgreep wys die stegie langs die poskantoor in Voortrekkerweg, Parow, waar die derde slagoffer aangeval is. Die stegie waar die ander slagoffers aangeval is, is sowat ’n blok hiervandaan. Winkeleienaars sê mense word daagliks hier aangeval. Foto: Google Maps

’n Derde slagoffer het na vore gekom en vertel hoe ook sy op Oukersdag in een van die stegies by die poskantoor in Parow, Kaapstad, aangerand is.

Elzét Stoffberg (41) van Parowvallei het op 24 Desember saam met haar skoonpa na die poskantoor gegaan om ’n pakkie te gaan afhaal.

Die poskantoor is op die hoek van ’n stegie. Dit is nie dieselfde stegie as waar John Edward Morgenrood (81) en Maria Williams, die rugbylegende Chester Williams se weduwee, aangeval is nie, maar is sowat ’n blok daarvandaan. Morgenrood is later in die hospitaal aan sy beserings dood.

Stoffberg het omstreeks 11:00 die oggend agter die poskantoor op ’n parkeerterrein stilgehou en moes deur die stegie na die poskantoor loop.

“Daar is ’n veiligheidshokkie op die hoek wat die sig na Voortrekkerweg belemmer en met al die taxi’s is die spasie baie nou om om die hoek na die poskantoor toe te stap,” sê sy.

Sy het voor geloop met haar skoonpa agter haar toe die aanval gebeur.

“Ek is met ’n vuis voor die bors geslaan en my oorlede ma se dolfyn-hangertjie is van my nek afgeruk. Hy het my so hard geslaan dat my bril amper ’n meter agter my geval het,” sê sy.

Van skok het sy ook ’n vuishou ingekry en die rower op die kop geslaan.

Die rower het gestruikel en die hangertjie op die grond laat val.

“Hy het vinnig na die hangertjie gegryp en oor Voortrekkerweg gehardloop en in ’n taxi gespring. Dit het in ’n kwessie van sekondes gebeur,” sê sy.

“Al het ek geskree, het die veiligheidswag niks gedoen nie.”

Die aanval het plaasgevind voordat sy en haar skoonpa die pakkie kon gaan afhaal. Hulle is ná die aanval by die poskantoor in.

“Die man wat by die poskantoor se ingang sit, het ons meegedeel dat dit amper daagliks gebeur,” sê sy.

Al het ek geskree, het die veiligheidswag niks gedoen nie.

Stoffberg het nie die voorval by die polisie aangemeld nie.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê twee mans is in verband met die moord op Morgenrood in hegtenis geneem en sal Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die private speurder Mike Bolhuis ondersoek ook dié voorval. Morgenrood was juis op pad terug van die poskantoor waar hy ’n skildery wat hy gemaak het aan Bolhuis gepos het toe hy aangeval is.

Rwexana sê die betrokke plekke is as ’n brandpunt geïdentifiseer en misdaadvoorkomingseenhede patrolleer dit gereeld.

Adrian Smith, bestuurder van die winkel Fabulous Wear, wat al agt jaar hier werk, het vroeër aan Netwerk24 gesê sy sien nooit dat die polisie patrollies doen nie. Sy sê hulle leef in vrees.

Rwexana het mense aangeraai om sulke voorvalle by die polisie aan te meld.

“Die gemeenskap moet baie versigtig wees wanneer hulle in hierdie gebied is en enige verdagte optrede moet dadelik by die polisie aangemeld word,” sê sy.

Smith sê die probleem is herhaaldelik ook by die plaaslike wyksraadslid aangemeld.

Die gemeenskap moet baie versigtig wees wanneer hulle in hierdie gebied is en enige verdagte optrede moet dadelik by die polisie aangemeld word.

Die Kaapse metroraad het by navraag gesê sy direktoraat vir stedelike bestuur het in die verlede met die Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik vergader om bykomende dienste soos veiligheid, skoonmaakdienste, diensverskaffing en instandhoudingsdienste te lewer.

Ná die onlangse voorvalle sal die metro weer met die verbeteringsdistrik en die Parow-polisie vergader sodat meer patrollies bedags en snags gedoen word.

Meer oor:  Aanval  |  Aanrand  |  Parow
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.