Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Tonteldoos-aanval: Pasgetroude nou ’n weduwee
Len (60) en Joey (52) Pretorius is in Maart vanjaar getroud. Foto: Facebook/Len Pretorius

“Ek kon niks vir hom doen nie; ek kon níks vir hom doen nie. Hy het so baie gebloei.”

So het Joey Pretorius (52) van Pretoria, Sondag huilend vertel hoe haar man, Len (60), Vrydagaand op ’n gasteplaas in Tonteldoos in Limpopo voor haar oë doodgeskiet is.

Die egpaar is in Maart getroud en sou die naweek by die Bushboys Camp&Cottage in Tonteldoos gaan fietsry. Tonteldoos is 26 km van Roossenekal af op die grens tussen Limpopo en Mpumalanga.

Len het sy 60ste verjaarsdag minder as ’n maand gelede op 31 Oktober gevier.

Len Pretorius (60) is Vrydagaand op 'n gasteplaas in Tonteldoos, Limpopo, doodgeskiet. Foto:Facebook, Len Pretorius

“Hy was die mooiste mens en sou nie ’n vlieg skade aandoen nie,” het Joey gesê.

Hulle is Vrydagaand nadat hulle in die onthaalsaal by die gastehuis geëet het, na hul rondawel.

Joey sê hulle het ’n harde slag teen die venster gehoor.

Len het die gordyn weggetrek en drie gewapende mans buite gesien.

“Hulle het aanhou skop teen die venster. Hulle wou inkom.”

Die venster van die rondawel waardeur Len Pretorius Vrydagaand doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Len het in die geharwar ’n tas gegryp en daarmee teen die venster geslaan. “Hy het verstrengel geraak in die gordyn, die venster het gebreek en toe skiet hulle hom.”

Die koeël het Len in die gesig getref.

“Hy het sy hand op sy keel gesit en omgedraai na my toe. Daar was baie bloed. Ek het probeer om hom te help, maar hy het hom doodgebloei.”

Die drie mans het in die rondawel ingestorm, Joey teen die kop geslaan en gevra vir geld en wapens.

“Ek het gesê ons het nie wapens nie. Hulle het R150 wat ek by my gehad het, gesteel en Len se beursie gevat.”

Hulle het toe by die egpaar se motor ingebreek en ’n sak waarin fietsry-bybehore was, gesteel.

Joe Holmes, eienaar van Bushboys Camp&Cottage, sê hy het die skoot gehoor, dadelik sy flits gegryp en na die rondawel gehardloop.

Joey Pretorius (52) het Vrydagaand gesien hoe haar man, Len (60), op ’n gasteplaas in Limpopo doodgeskiet word. Foto: Facebook, Len Pretorius

“Ons het die bloeding met handdoeke probeer stop, maar hy het in minder as vyf minute doodgebloei.”

Joey sê sy het vandat hulle Vrydag op die gasteplaas aangekom het, nie veilig gevoel nie.

“Daar is nie diefwering voor die vensters van die rondawels nie en geen elektriese omheining nie. Die eienaars het ons verseker dit is veilig en dat hulle nog nooit enige misdaad ervaar het nie. Vandag is my man nie meer by my nie.”

Joey sê daar was binne 30 minute ’n groep mense van die plaaswag op die toneel en die paaie na die gasteplaas is afgesper.

Holmes sê hy het nog altyd die Tonteldoos-gebied as veilig beskou. “Hier is bykans nooit enige misdaad nie. Wat gebeur het, wys net weer dat ons in Suid-Afrika bly waar daar ontsettend baie misdadigers is wat enige plek kan toeslaan.”

Hy het die voorval as ’n “skokkende en sinnelose tragedie” beskryf.

Ek het probeer om hom te help, maar hy het hom doodgebloei.

“My hart gaan uit na die familie. Niks kan hul verlies en hartseer ongedaan maak nie."

Len was ’n kranige sportman en baie lief vir fietsry. Die egpaar is ook lede van die Harley Davidson-motorfietsklub.

Henry van Bosch, ’n vriend van Len, skryf op Facebook: “Daar is geen sin in wat gebeur het nie. Len het ander altyd met respek behandel.”

Len was jare lank ’n markagent by die Varsproduktemark in Pretoria. Hy het drie kinders uit ’n vorige huwelik. Hy laat ook ses kleinkinders agter.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ’n reusesoektog is na die moordenaars van stapel gestuur. Enigiemand met inligting kan die polisie se noodnommer, 10111, bel.

Geen roudiensreëlings is al bekend nie.

Meer oor:  Tonteldoos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.