Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pastoor vertel hoe Van der Westhuizen sy lewe gered het
Past. Kobus Erasmus beduie verlede jaar kort ná die kerkaanval waar die rower ’n wapen teen sy kop gedruk het. Foto: Deaan Vivier

Die oorgehaalde vuurwapen was teen sy kop.

“Twee maal,” voeg past. Kobus Erasmus by.

Die aanvaller het dit sommerso “gangster style” gehou.

Hy het met die instorm by die kerkgebou na die kansel gegaan en gedreig om die pastoor te skiet, weggestap, omgedraai en weer die koue staal teen Erasmus se kop gedruk.

Die aanvaller het dit sommer so “gangster style” gehou.

Tussendeur het hy ook die pastoor, wat nog moes probeer regop bly op sy krukke, met die wapen geslaan dat die bloed loop.

“Eers toe skiet Pieter hom.

“Hoor mooi: Pieter van der Westhuizen het op Sondag 26 Julie 2020 my lewe met genade van Bo gered.

“So, ons as gemeente, ons as mense wat daardie dag in die kerk was, stap sedertien ’n pad saam met Pieter. Nou, met die nuwe kinkel in die saak, voel dit vir ons of die skote weer klap, alles weer oopgeruk word,” sê Erasmus.

Die vreugdevure het hoog gebrand toe die gemeente hoor die ondersoek na die skietery daardie dag in die Querencia Bedieninge in Wierdapark, Centurion, is afgehandel.

Pieter van der Westhuizen

Die ondersoeke, een van gewapende roof teen die oorlede aanvallers en ’n geregtelike ondersoek (GO) teen Van der Westhuizen om te bepaal of hy nalatig was of strafregtelik aanspreeklik is deur die twee dood te skiet, was luidens ’n rekenaarboodskap van die polisie afgehandel en die dossiere afgesluit.

Vrydag het brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, egter gesê: “Die polisie wil bevestig dat beide sake in verband met die voorval steeds oop is en steeds ondersoek word.

“ ’n Interne ondersoek sal gedoen word om te bepaal hoe die regsverteenwoordiger van die kerklidmaat, wat glo die vermeende rowers geskiet het, ingelig is deur die Wierdabrug-polisie dat sy kliënt van alle blaam onthef is,” het Peters bygevoeg.

Ulrich Roux, Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger, het hierop gesê hy het vroeër daardie gerekenariseerde SMS’e wat sy kliënt ontvang het met die ondersoekbeampte bevestig.

Hy is dus Vrydag na die polisie se provinsiale kantoor, waar hy ingelig is: Hulle gaan ondersoek doen na hoe daardie boodskap “verkeerdelik” by Van der Westhuizen uitgekom het.

Die kerkvoorval-ondersoek word nou ook deur die provinsiale kantoor oorgeneem.

Past. Kobus Erasmus leun op sy kruk kort ná die voorval verlede jaar. Foto: Deaan Vivier

Volgens Roux is die enigste uitstaande ondersoekwerk die ballistiese uitslag en die verslae van die nadoodse ondersoek.

“Maar dit gaan nie die ondersoek verder neem nie. Ons weet dit was Pieter se wapen wat gebruik is. Ons weet die ander persone is dood en hoe.

“Dit gaan daaroor of my kliënt uit selfverdediging opgetree het.”

Erasmus, wat ook Van der Westhuizen se skoonpa is, moes hierdie ommeswaai van die polisie aan die gemeente oordra.

“Ek moes weer op ’n boodskapgroepie vra vir gebed dat ons die Troon van Genade nader vir beskerming,” sê die pastoor.

Hy verduidelik hoe die voorval destyds almal geruk het, van trauma wat uiteindelik deur wonderwerk-getuienis begin genees het.

Die een boodskap wat Pieter van der Westhuizen van die polisierekenaarstelsel ontvang het, lui die ondersoek teen hom is afgehandel. Foto: Skermgreep

“Die Bybel sê die gemeente is ’n liggaam. As jy byvoorbeeld jou duim in die deur vasslaan, gryp jou ander hand die duim vas. Die liggaam gryp vas waar dit seer is.

“Dis hoe ons, die gemeente, vir Pieter bystaan en die pad saam met hom, die een ‘lidmaat’ wat almal se lewe gered het, gestap het.

“Almal was dus verlig toe ons hoor die ondersoek is afgehandel. En toe moes ek die volgende dag sê dit was ’n fout.”

Erasmus sê talle vrees dat hulle dalk weer verklarings sal moet aflê, weer na die bloedfoto’s van daardie dag moet kyk en aan alles herinner word.

“Ons weet nie of hierdie (nuwe wending) net ’n tegniese glitch is nie?

“As herder van die gemeente wonder ek of die nuwe wending dalk met ’n bietjie meer menslikheid hanteer kon word, insig in die trauma, dalk ’n beter kommunikasiestruktuur?

“Weet hulle wat hulle aan die mense doen deur die saak so te hanteer?” vra die pastoor.

Hy voeg by: Hy weet Van der Westhuizen hou vas aan die Here, maar hy dink hierdie nuwe “kinkel” het hom, soos die res van die gemeente, “nou bietjie gerattle”.

Meer oor:  Pieter Van Der Westhuizen  |  Skietvoorval  |  Vuurwapen  |  Steun
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.