Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Paul Nel-skietdood ‘tekenend van SA’
Moord, boer skiet boer
Paul Nel.

Paul Nel (66), die vee-en-wildboer wat Donderdagaand buite Koffiefontein op sy stoep waar hy alleen gebraai het deur ’n medeboer doodgeskiet is, se gesin sê hy was altyd omring deur vriende.

Coenraad Badenhorst (38) het Nel omstreeks 23:00 by die plaas Dassieskop doodgeskiet, ten spyte van die polisie se waarskuwings.

Hy het glo ’n pistool en ’n jaggeweer met nagsigtoerusting gebruik.

Met die polisie se aankoms het ’n skietery, wat volgens omstanders soos ’n “oorlog” geklink het, uitgebreek.

Badenhorst het ook vir konst. Vuyani March (27) in die kop geskiet waarna hy op die toneel dood is. Sers. George Calvert (41) is in die gesig gewond en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.

Die polisie het Badenhorst doodgeskiet.

Volgens Johan Buys, Nel se skoonseun wat met sy dogter Salmi getroud is, is die treurspel tekenend van die onvergenoegde atmosfeer in Suid-Afrika.

Hulle sukkel om ’n enkelfoto van Nel te kry om op die begrafnisbrief te gebruik.

Nel was geliefd onder sy vriende en familie.

“Hy was altyd omring met mense op foto’s. Die feit ons nie ’n enkelfoto van hom kon kry nie, is bewys van sy menswees. Hy was ’n mens-mens.

“As ons gaan uiteet het, was ons nie ’n klein groepie mense nie. Ons sou maklik 20 mense gewees het.

“Hy het ’n wye vriendekring gehad. Die gesellighede op sy plaas was hartlik en gemeensaam.

“Hy het in elke mens belang gestel. Hy sou moeite doen om jou te leer ken.

“Toe die Nel-gesin my die eerste keer ontmoet het, het hy gevra wat my naam is en of ek al gejag het. Ek het nog nooit vantevore gejag nie. Die volgende dag het almal my saamgeneem om my eerste jagtog te ondervind.

“My vrou is ’n voorslag en het integriteit wat van haar ouers se opvoeding spreek. Dit reflekteer veral ook op my skoonpa.”

Buys wil niks oor Badenhorst se optrede sê nie.

Badenhorst se familie meen sy onvergenoegdheid oor ’n huur-regsgeding teen Nel het moontlik aanleiding tot die treurspel gegee.

Buys meen wat gebeur het, “is tekenend van die atmosfeer in Suid-Afrika”.

“Mense wil reg in eie hande neem as sake nie na wense verloop nie. My skoonpa is ’n slagoffer in ’n land waar ’n mens se lewe nie meer geag word nie. Mens lees dit daagliks in die koerante.”

Pietro Nel, Nel se eksvrou, sê hy gaan veras word. ’n Troosdiens sal in Koffiefontein en in Stilbaai gehou word.

Nel het tussen Koffiefontein en Stilbaai gependel waar hy en sy vrou, Alvera, met hul jong kind gewoon het.

Meer oor:  Paul Nel  |  Coenraad Badenhorst  |  Koffiefontein  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.