Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Paul O’Sullivan werk nou onder AfriForum se vlerk
Monique Taute, hoof van AfriForum se nuwe teenkorrupsie-eenheid, Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Paul O’Sullivan, forensiese ondersoeker, by die bekendstelling van die nuwe eenheid.

Die Tsjeg Radovan Krejcir het glo aangebied om as deel van ’n pleitooreenkoms met die staat “verdoemende” getuienis te lewer teen “korrupte grootkoppe” in die regstelsel en polisie.

Dié aanbod is in ’n brief van Krejcir se prokureur, Eric Bryer, aan adv. Andrew Chauke, direkteur van openbare vervolgings in Suid-Gauteng, vervat.

Krejcir sal skuld op al die aanklagte teen hom beken op voorwaarde dat hy tien jaar gevangenisstraf vir elke klag opgelê word, wat dan samelopend uitgedien sal word.

Hy wil dan ook na sy tuisland teruggestuur word.

Dié aanbod het aan die lig gekom op die bekendstelling van AfriForum se nuwe teenkorrupsie-eenheid Woensdag in samewerking met die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan.

Monique Taute sal aan die hoof van die eenheid wees.

Volgens O’Sullivan kan hy bevestig dat al die mense wat Krejcir as korruptes wil uitwys, bande met pres. Jacob Zuma het.

Saam met O’Sullivan, wat sy lewe aan die stryd teen korrupsie wy, sal dit groot trefkrag hê, soos vandag se onthulling oor hoe Krejcir byna elke staatsinstelling binnegedring het en dit ’n groot misdaadgolf veroorsaak het.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Krejcir is glo ook bereid om oor sy “korrupte bande” met verskeie top-polisielede en ’n landdros te getuig.

Volgens ’n brief van AfriForum se prokureurs aan adj.pres. Cyril Ramaphosa en adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van nasionale vervolging, lyk dit asof daardie aanbod egter nie eens oorweeg word nie.

“Krejcir se aanbod om teen die mense te getuig, is ’n gulde geleentheid om te wys dat korrupte amptenare verantwoordelik gehou sal word,” lui die brief.

Indien dit nie opgevolg word nie, sal dit slegte nagevolge vir die land hê, sluit die brief af.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Taute met haar regskennis en haar span sal ’n koördinerende rol speel om korrupsie deur hooggeplaastes te identifiseer, dit deur ervare ondersoekers te laat ondersoek en te verseker dat strafregtelike klagte ingedien word.

“Dit sal openbare bekendmaking en druk om te vervolg insluit. Saam met O’Sullivan, wat sy lewe aan die stryd teen korrupsie wy, sal dit groot trefkrag hê, soos vandag se onthulling oor hoe Krejcir byna elke staatsinstelling binnegedring het en dit ’n groot misdaadgolf veroorsaak het,” sê Kriel.

AfriForum voel wetsgehoorsame landsburgers ly onder korrupsie.

“Onder pres. Zuma bring korrupsie die land op sy knieë. Erger nog, die regstelsel is klaar deur misdadigers geïnfiltreer en is onder beheer van gulsige en korrupte politici.

“Terwyl sommige mense in hoë poste van vervolging beskerm word, word ander, soos Paul O’Sullivan en minister Pravin Gordhan, met vals aanklagte geteiken,” sê Kriel.

Die eerste fase vir die nuwe eenheid is om sulke mense te ontbloot en te verseker dat hulle vervolg word, selfs al weier die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om dit weens “politieke inmenging” te doen.

Taute voeg by: “Ons sien hoe polities korrup die Valke en die litigasie-eenheid vir prioriteitsmisdade in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging ’n duidelike agenda volg om mense wat opstaan, stil te kry.

“Vandag onthul ons ook hoe die regstelsel deur die onderwêreld oorgeneem is.

“Geen van Krejcir se misdade sou moontlik gewees het sonder die bystand en beskerming van senior persone in die stelsel nie. Hy het lede van die regstelsel, senior polisielede, amptenare van binnelandse sake en senior ANC-amptenare korrupteer,” sê Taute.

O’Sullivan het ’n voorlegging gedoen van hoe mense geld van Krejcir ontvang het, en voordele weerskante gekry is in dié sogenaamde baantjies-vir-boeties-verhouding.

Van die eerste gefabriseerde aanklagte, volgens O’Sullivan, was dié destyds teen adv. Gerrie Nel, die aanklaer wat die voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi vervolg het.

“As jy kyk na die klagstaat teen minister Pravin Gordhan sal selfs ’n regstudent bloos (oor die samestelling daarvan),” sê O’Sullivan.

Hy sê dat, met AfriForum as sy werkgewer, hulle nou iets kan doen aan sulke “gefabriseerde” sake van diegene wat Zuma dien.

* Die NVG kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Radovan Krejcir
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.