Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
PE beklee 1ste plek vir poging tot moord

Die polisiekantoor in die land waar die meeste sake van poging tot moord vir die afgelope boekjaar aangemeld is, is in Port Elizabeth in die Oos-Kaap geleë.

Altesaam 265 sake van poging tot moord is by die Gelvandale-polisiekantoor in die hartjie van dié bendegeteisterde gebied in Port Elizabeth aangemeld. Dit is ’n styging van 17,8%, teenoor die nasionale syfer wat met net 0,2% gestyg het.

In die Oos-Kaap het moord ook met 5,2% toegeneem, terwyl dié syfer landwyd met 6,9% gestyg het.

Hierdie statistieke is Dinsdag deur Bheki Cele, minister van polisie, vir die tydperk van 1 April 2017 tot 31 Maart 2018 aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie voorgelê.

Waar bendegeweld volgens die statistieke as rede vir moord gelys word, het die tweede meeste bendeverwante moordsake in die land in die Oos-Kaap voorgekom. Die Wes-Kaap was die voorloper in hierdie kategorie.

Grafika24

Prof. Theodore Petrus, navorsingsgenoot in maatskaplike wetenskappe aan die Fort Hare-Universiteit, sê hy is nie verbaas oor die bogenoemde syfers nie.

“Die statistieke gee ’n meer akkurate prentjie van die bendegeweld in die land. Die fokus was vir te lank net op die Wes-Kaap, terwyl dit ’n werklikheid is dat die Oos-Kaap op dieselfde vlak is.”

Die bekendmaking van die statistieke is volgens Petrus ’n stap in die regte rigting om beleidmakers en wetstoepassers se fokus op die probleme met bendes toe te spits.

Hy meen ook die hoë syfer vir poging tot moord by die Gelvandale-polisiekantoor dui op die bendegeweld wat op die drumpel van dié polisiekantoor en in sy bedieningsgebied plaasvind.

“Helenvale en Gelvandale word deur ’n straat geskei. En na my mening is Helenvale die sentrale gebied vanwaar bende-aktiwiteite in die provinsie spruit.”

Die hoër moordsyfer in die provinsie is ook Dinsdag sterk deur Bobby Stevenson, DA-woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit, bekla.

“Moord het van 3 628 sake tot 3 815 gestyg, wat beteken ’n gemiddeld van tien mense word elke dag in die Oos-Kaap vermoor.”

Dit is duidelik dat die polisie nie genoeg hulpbronne, opleiding, toerusting en personeel het nie en daarom verloor hulle die stryd om die inwoners van die Oos-Kaap veilig te hou. Die polisie moet hul prioriteite regkry.
Bobby Stevenson, DA-woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit.

Die Oos-Kaap het ook vyf polisiekantore onder die top-30-polisiekantore in die land waar moordsake aangemeld is.

Die Mthatha-polisiekantoor is negende in die land met ’n styging van 26%, die Bethelsdorp-polisiekantoor is 13de met ’n 8,5%-styging, terwyl KwaZakhele, Lusikisiki en Ngqeleni ook onder die top-30 verskyn.

Moord op vroue en kinders in die Oos-Kaap is naas KwaZulu-Natal die tweede hoogste in die land.

In die boekjaar is 550 vroue vermoor, sowel as 180 kinders, wat 43 meisies en 137 seuns insluit.

“Die misdaadstatistieke wat bekend gemaak is, wys ’n bloed-golf van gewelddadige misdaad vloei steeds deur die Oos-Kaap,” sê Stevenson.

Volgens Petrus kan die opwaartse neiging in moordsake, veral in gebiede soos Mthatha, aan maatskaplik-ekonomiese faktore toegeskryf word.

“Daar is natuurlik baie faktore, maar wanneer mense in swak maatskaplik-ekonomiese omstandighede leef en daagliks hoor van korrupsie en stygings in lewenskoste, word mense maklik by misdaad ingetrek.”

Hy meen egter die groot vraag is hoekom die misdaadsyfer nie ná 20 jaar drasties verander het nie.

“Die beleidsmakers moet sien, alles wat hulle doen werk nie. Dit kom voor asof die regering nie ’n ernstige poging aanwend om die misdaadsyfer af te bring nie en die vraag moet gevra word of die regering moontlik iets hieruit baat.”

Nege Oos-Kaapse polisiekantore verskyn onder die top-30 in die land waar die meeste veediefstalsake aangemeld is.

Stevenson het op sy beurt gesê hy verwelkom die afname van 2,6% in huisroof en van 4% in sakeroof in die provinsie, maar is skepties om dié syfers as die ware stand van sake te aanvaar.

“Ek glo inwoners het eenvoudig opgegee om sake by die polisie aan te meld,” sê Stevenson.

“Dit is duidelik dat die polisie nie genoeg hulpbronne, opleiding, toerusting en personeel het nie en daarom verloor hulle die stryd om die inwoners van die Oos-Kaap veilig te hou. Die polisie moet hul prioriteite regkry.”

Terwyl Cele sê 62 plaasmoorde is die afgelope boekjaar landwyd gepleeg, meen Johandré van Zyl, veiligheidskoördineerder vir AfriForum in die Oos-Kaap, dié syfer stem nie ooreen met hul eie syfers nie.

“Ons plaasmoordsyfer, nasionaal vir 2018, dit wil sê vanaf Januarie 2018 tot nou, is 41 moorde. Dit sluit twee moorde in die Oos-Kaap in.”

Hy sê die enigste wyse waarop moord in die Oos-Kaap hokgeslaan kan word, is deur die polisie te herstruktureer en om stappe te doen om die nasionale vervolgingsgesag sover te kry om misdadigers doeltreffend te vervolg.

Nóg ’n afdeling van misdaad wat in die Oos-Kaap floreer, is veediefstal. Dit het met 3,2% gestyg en met 7,2% landwyd.

Mthatha, Maluti, Sulenkama en Qumbu in die provinsie beklee die eerste vier plekke op die nasionale lys, met onder meer Mount Frere en Stutterheim wat laer op die lys verskyn.

Wayne Iveson, voorsitter van die Agri-landbouvereniging in Stutterheim, het by navraag gesê veediefstal hier het toegeneem. “Die ergste hiervan is dat die polisie nie die veediewe vastrek nie, en dat ons baie min van ons vee terugkry.”

Hy sê dié syfer is in werklikheid veel hoër aangesien talle boere reeds vertroue in die polisie verloor het en nie meer die sake aanmeld nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.