Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
PE: Owerhede lê beslag op 11 taxi’s, 4 vas ná protes
Verkeersowerhede en polisiebeamptes op die toneel in KwaZakhele, Port Elizabeth, waar taxi’s die pad Dinsdagoggend versper het. Foto: Lulama Zenzile

Daar is op 11 taxi’s beslag gelê en minstens vier mense is in hegtenis geneem nadat taxi’s Dinsdag ’n pad in Port Elizabeth versper het.

Die betrokke taxibestuurders is glo ontevrede omdat hulle minder passasiers op ’n slag mag vervoer te midde van die staat van inperking.

Na wat verneem word, het die taxi’s Dinsdagoggend vroeg saamgetrek om ’n pad naby die Njoli-plein in KwaZakhele te versper. Volgens ’n ooggetuie het die polisie twee skokgranate op die toneel gegooi, waarna verskeie taxibestuurders weggehardloop het.

Die polisie en die verkeersowerhede het onder die wakende oog van soldate beslag gelê op die taxi’s wat verlate agtergelaat is.

Een van die taxi’s waarop beslag gelê is, word op ’n insleep-vragmotor gelaai. Foto: Verskaf

Warren Prins, hoof van verkeer en lisensiëring in die Nelson Mandelabaai-metro, het bevestig dat 11 taxi’s gekonfiskeer en vier mense in hegtenis geneem is. Hy was egter Dinsdagmiddag nog nie seker of die aangekeerde mense taxi-eienaars of taxibestuurders is nie.

Luidens gerugte is die optrede deur die Uncedo-taxivereniging gedryf aangesien taxibestuurders minder geld maak omdat hulle minder passasiers per rit mag vervoer.

Maar Kwayiyo Msutwana, ’n woordvoerder van Uncedo, sê die vereniging distansieer hom van die optrede.

Soldate monitor die situasie in KwaZakhele, Port Elizabeth, waar taxi’s die pad Dinsdagoggend versper het. Foto: Lulama Zenzile

Hy is onseker of die mense wat by die protes betrokke was, wel lede van die taxivereniging is.

“Ek sit by die huis, ek gaan nêrens nie. Ek kan nie met sekerheid sê of die mense wat betrokke was, deel is van Uncedo nie.

“Wat ek wel weet, is dat ons voorsitter opdrag gegee het dat ons van Vrydag af ons taxi’s by die huis moet parkeer en daar moet bly, tot verdere kennisgewing.”

Hy sê dié opdrag is gegee omdat dit nie finansieel sin maak om slegs een passasier in ’n 15-sitplek-minibustaxi te vervoer nie.

* Die polisie het nie onmiddellik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Beslaglegging  |  Protes  |  Koronavirus  |  Taxi's  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.