Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
PE: Rowers bedrywig op Arlington-stortingsterrein

Die polisie in Port Elizabeth is op soek na ’n groep rowers wat mense op die Arlington-stortingsterrein in Victoryrylaan aanval.

Minstens drie mense is verlede week in afsonderlike voorvalle op dié stortingsterrein beroof. In al drie gevalle het ’n groep van vier of vyf gewapende rowers die niksvermoedende slagoffers oorrompel terwyl hulle vullis op die stortingsterrein weggegooi het.

Die jongste aanvalle kom nadat ’n vlaag van rooftogte in Januarie ook op die stortingsterrein plaasgevind het. Ses vermeende rowers is toe vasgetrek en met 17 klagte verbind, waarna die aanvalle afgeneem het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het mense wat die stortingsterrein gebruik Maandag opnuut gewaarsku om waaksaam te wees wanneer hulle vullis daar stort.

Volgens haar is die jongste voorval Vrydag aangemeld nadat ’n 34-jarige man omstreeks 16:00 op die stortingsterrein beroof is.

Die polisie moedig mense aan om waaksaam te wees en nie hulp van enigeen te aanvaar nie.

Na beweer word het vyf mans op die slagoffer se bakkie gespring toe hy by die stortingsterrein inry.

Naidu sê die slagoffer was onbewus daarvan dat die groep mans nie amptelike werkers by die stortingsterrein is nie.

Die mans het glo die slagoffer gehelp om sy vullis af te laai voordat hulle ’n vuurwapen en mes uitgepluk en hom beroof het.

Naidu het bevestig soortgelyke rooftogte by die stortingsterrein is onlangs aangemeld, maar wou nie die presiese getal bekend maak nie. Sy sê die polisie vermoed dit is dieselfde groep wat betrokke is.

“Die polisie moedig mense aan om waaksaam te wees en nie hulp van enigeen te aanvaar nie. Die polisie versoek ook mense om alle waardevolle goedere tuis te los (wanneer hulle die stortingsterrein besoek).”

Volgens Naidu is veiligheidsbeamptes by die stortingsterrein teenwoordig en word die gemeenskap aangemoedig om eers by die veiligheidswagte se kantoor aan te meld voordat hulle die stortingsterrein binnegaan.

Netwerk24 het ook vroeër berig oor die vrese van inwoners wat die Hillwacht-stortingsterrein in Uitenhage in die Nelson Mandelabaai-metro gebruik. Inwoners voer aan die stortbakke is in Maart laas skoongemaak, terwyl daar ’n groep van 15 mense is wat glo rondstaan en mense wat vullis wil stort, intimideer. Van hulle is met messe en pangas gewapen.

Mamela Ndamase, munisipale woordvoerder, het gesê die metro sal teen Dinsdag terugvoering gee oor kwessies rondom dié stortingsterreine.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Arlington  |  Rowers  |  Stortingsterrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.