Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pearly Beach: Stropery ‘ruk handuit’

Perlemoenstropery het nou “heeltemal handuit geruk”. Verlede Woensdag se voorval was iets wat al lank gevrees word en het net weer bevestig dat daar eenvoudig net geen wil is om die misdaad te keer nie.

Dit is die mening van Leo van Dijk, sekretaris van die gemeenskapsdrukgroep Community Against Abalone Poaching (CAAP), ná die voorval Woensdag op Pearly Beach aan die Overbergse kus toe tientalle stroper-meelopers hul makkers wat besig was om perlemoen te stroop en deur wetstoepassers in die see vasgekeer was, ontset het.

’n Ooggetuie wat uit vrees vir intimidasie nie geïdentifiseer wil word nie, het vertel dat ’n klein groepie perlemoenstropers naby die ou hawe en langs Pearly Beach se Blouvlag-strand, Castle Beach, deur wetstoepassers verras en in die see vasgekeer is.

Die stroper-meelopers hardloop oor die duine by Pearly Beach om hul makkers wat deur wetstoepassingsbeamptes in die see vasgekeer is, te gaan help. Foto: Verskaf

“Dit was duidelik dat die wetstoepassers, daar was omtrent 15 van hulle, die stropers sou vastrek as hulle die water met hul buit verlaat. Daar moes van hul meelopers op die uitkyk gewees het en toe die stropers na die strand toe kom, het drie bakkies vol van hul ondersteuners op die toneel aangejaag gekom. Hulle was met klippe, stokke en pangas gewapen en het die wetstoepassers verhinder om teen die stropers op te tree. Gelukkig is geen perlemoen gebuit nie.

“Daar het ook talle skote geklap en dit kom voor dat die wetstoepassers met rubberkoeëls op die stropers geskiet het. Weens die oormag – daar was sowat 80 meelopers – kon nie een gearresteer word nie. Een stroper is deur die wetstoepassers gevang, maar hy is deur die massa bevry en het saam met die res van die groep gevlug,” het die ooggetuie vertel.

Die polisie in Gansbaai het die voorval bevestig en gesê hulle het gereageer op klagtes van die publiek oor perlemoenstropers.

“Sowat 20 wetstoepassingsbeamptes het op klagtes naby die ou hawe op Pearly Beach gereageer. Terwyl die lede aandag aan die klagte gegee het, het drie bakkies met sowat 50 persone afkomstig van Eluxolweni opgedaag. Die persone was gewapen met pangas, knopkieries en klippe, en het die wetstoepassingsbeamptes met klippe bestook. Hulle wou verhoed dat die beamptes beslag lê op die perlemoen en arrestasies uitvoer. Daar word bewerings ondersoek dat een persoon in die groep ’n vuurwapen gehad het.

“Die beamptes het rubberkoeëls afgevuur om hulle teen die oproerige groep te beskerm. Geen beserings is aangemeld nie. Geen arrestasies is gemaak nie en daar is beslag gelê op duiktoerusting.

“ ’n Strafregtelike aanklag van openbare geweld word deur die Gansbaai-polisie ondersoek.

“Die optrede van hierdie persone word op die sterkste moontlike wyse veroordeel en ek wil dit beklemtoon dat wetteloosheid van hierdie aard nie geduld sal word nie. Daar sal streng opgetree word teen enige persoon wat die wet oortree of beamptes verhoed om hul grondwetlike verpligtinge uit te voer,” sê kol. W. Coetzee, stasiebevelvoerder van die Gansbaai-polisie.

Ons het eenvoudig nie die mannekrag nie. As ons nie hulp van die provinsiale en nasionale owerhede kry nie, kan ons maar net op klein skaal probeer om stropers vas te trek.

Van Dijk meen die stropery het nou heeltemal handuit geruk weens die voortslepende tekort aan mannekrag, infrastruktuur en die politieke wil om hierdie misdaad te keer.

“Die owerhede kan mos nie net elke keer agter verskonings – al is sommiges daarvan geldig – skuil nie. Daar moet mos dan ander planne gemaak en strategieë gevolg word om die misdaad hok te slaan,” meen Van Dijk.

’n Lid van die plaaslike wetstoepassingsowerhede wat ook anoniem wil bly, sê die oorlog teen perlemoenstropers in die gebied sal nooit gewen word nie.

“Ons het eenvoudig nie die mannekrag nie. As ons nie hulp van die provinsiale en nasionale owerhede kry nie, kan ons maar net op klein skaal probeer om stropers vas te trek. Op ons eie sal ons dit nooit gestop kan kry nie – daar is eenvoudig nie genoeg voete op grondvlak nie.

“Sommige van ons werk dag en nag, maar ons kan nie sonder hulp nie. Behalwe dat dit gevaarlik is omdat ons met grootskaalse georganiseerde misdaad te doen het, kan ’n mens ook net soveel in 24 uur doen.”

Meer oor:  Pearly Beach  |  Perlemoenstropery  |  Stropery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.