Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pelonomi-artse leer selfverdediging ná aanvalle

Die vrouedokter wat verlede maand ’n man se tong afgebyt het toe hy haar in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein probeer verkrag het, kry nou saam met ander dokters van die hospitaal opleiding in selfverdediging.

Dié opleiding spruit uit ’n vlaag van aanvalle in die hospitaal vroeër die jaar.

Kort ná die tongbyt-voorval het drie gewapende mans nóg ’n vrouedokter in die vroeë oggendure op die hospitaal se parkeerterrein aangeval.

Agter is Wickus Bronkhorst wat keer dat sy broer Tinus omval toe hy Hanti Brits probeer oorrompel het en sy meesterlik een van die ontsnappingsbewegings uitgevoer het. Brits is ’n mediese student in haar derde jaar (sy was nie die slagoffer van die tong-voorval in die Pelonomi-hospitaal vroeër vanjaar nie). Foto: Mlungisi Louw

Die jong dokter wat byna verkrag is, sê sy neem ook deel aan die opleiding om haarself in geval van nood toe te rus.

“Dit is ’n geleentheid wat ek nêrens anders gaan kry nie. Dit is danksy my reaksie (om die aanvaller se tong af te byt) dat ek myself kon beskerm en dit leer my net die fynere vaardighede om nie ’n slagoffer te wees nie.”

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) het agt jaar gelede toe ’n dokter in die Pelonomi-hospitaal verkrag is, die veiligheid by die hospitaal opgeskerp, maar het met die onlangse voorvalle besluit genoeg is genoeg.

Dr. Deon Menge, wat dien op Sama se raad in die Vrystaat en self aan die opleiding deelneem, sê dokters het ’n verantwoordelikheid om hulself toe te rus as hulle in ’n gevaarlike gebied werk. Die opleiding was sy inisiatief.

“Dit gaan nie net oor selfverdediging nie, maar ook om jou omgewing waar te neem en bewus daarvan te wees.”

Dr. Deon Menge (links), wat dien op Sama se raad in die Vrystaat, het voorgestel dat die dokters opgelei word in selfverdediging nadat daar vanjaar ’n vlaag van misdaad by die Pelonomi-hospitaal was.Foto: Mlungisi Louw

Tinus Bronkhorst, ’n mediese student in sy vierde jaar, bied die opleiding aan en het Dinsdag die dokters die basiese tegnieke van selfverdediging geleer.

Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat onder die ouderdom van 18 ’n vierde-dan-swartgordel verwerf het.

Sy broer Wickus, wat help met die opleiding, het ’n derde-dan-swartgordel en was in 2010 die wêreldkampioen in djioe-djitsoe.

Bronkhorst het elke beweging stap vir stap verduidelik en die dokters kon in groepies van twee op mekaar oefen.

No offense, maar julle is rof!” het Bronkhorst geskerts toe hy een van die dokters probeer oorrompel het en dié toe meesterlik een van die ontsnappingsbewegings uitgevoer het.

Sama borg die opleidingskursus wat bestaan uit tien klasse van ’n uur elk, en stel dit beskikbaar aan dokters, mediese personeel en studente.

Prof. Nathaniel Mofolo, hoof van die mediese skool, het Donderdag versoek dat Menge en Bronkhorst vanaf volgende jaar die selfverdedigingskursus aan die mediese studente as deel van hul curriculum aanbied.

Tinus Bronkhorst (links) ’n mediese student in sy vierde jaar, bied die selfverdedigingskursus in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein aan. Sy broer Wickus help hom daarmee. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bloemfontein  |  Aanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.