’n Man wat algemeen as Kaapstad se suidelike voorstede se perlemoen-koning beskou is, is in Schaapkraal naby Mitchells Plain in ’n sluipmoordaanval dood.
Die voorval het Dinsdag omstreeks 19:30 in Weltevredenweg, oorkant die stalle van die SA Turf Klub plaasgevind.
Volgens inligting is Leon Titus (51) van Zeekoeivlei en Patrick de Kock (50) se lyke in Titus se silwer Toyota Hilux-bakkie gevind. Hulle het veelvuldige skietwonde gehad. Bronne sê dat Titus, wat glo ook bande met die 28-bende het, glo onlangs ’n uitval met een van die bende se leiers gehad het.
Titus is oorspronklik van Strandfontein.
Die polisie het glo 13 patroondoppies op die toneel opgetel.
Bronne sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die sluipmoord bendeverwant of taxiverwant kan wees.
Titus en De Kock was ook glo minute voordat hulle vermoor is, in gesprek met mense in ’n silwer Toyota.
Die insittendes van die Toyota het glo kort daarna op Titus-hulle losgebrand. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Leon Titus (51) van Zeekoeivlei en Patrick de Kock (50), se lyke is in Titus se silwer Toyota Hilux-bakkie gevind. Foto: Verskaf