Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Stroper’ in Gansbaai doodgeskiet

’n Man wat glo daarvan aangekla is dat hy deel van ’n perlemoensindikaat was, is Maandagmiddag in Gansbaai se nywerheidsgebied doodgeskiet.

Volgens omstanders, wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering, was die slagoffer Donnovan Williams (34). Hy is glo ses keer geskiet.

Volgens die bronne het nog ’n perlemoenstroper hom vermoedelik in ’n geskil oor ’n stropersgebied geskiet.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het die skietvoorval, wat omstreeks 15:45 gebeur het, bevestig en gesê ’n saak van moord word ondersoek.

Volgens haar het ’n onbekende man die oorledene, ’n man wat in sy 30’s was, verskeie kere by die onderneming van ’n motorwerktuigkundige geskiet.

“Die slagoffer is op die toneel dood. Polisielede en speurders fynkam die toneel vir leidrade.”

Williams is glo daarvan aangekla dat hy deel was van ’n perlemoensindikaat, wat in Gansbaai, Hermanus, Hawston, Bredasdorp, Stanford, Pearly Beach en Kuilsrivier opereer.

Hy het die afgelope twee jaar verskeie kere in die hof saam met 16 medebeskuldigdes verskyn. Die groep is aangekla van rampokkery, smokkelary, diefstal, regsverydeling, die koop of verkoop van onwettige mariene hulpbronne en die onwettige vervoer daarvan.

Williams moes weer op 26 April in die hof verskyn.

Hy is in 2017 gewond in ’n skietvoorval in Forestweg, Eersterivier, waar Russell Jacobs, ook ’n perlemoenstroper, doodgeskiet is.

News24 berig dat Williams in Junie verlede jaar op borgtog van R50 000 vrygelaat is.

Volgens ’n lid van die organisasie Community Against Abalone Poaching (Caap), wat nie geïdentifiseer wil word nie, waarsku hulle al lankal dat die stropery in geweld gaan ontaard.

“Dit het in die nywerheidsgebied gebeur waar baie mense in die omtrek was – die skietery was oop en bloot. Dit raak nou gevaarlik in daardie areas en ons kry die gevoel dit gaan weer gebeur,” sê die man.

“Ons wil optrede sien. Ons doen ons bes om stropery te rapporteer wanneer ons dit sien, en probeer om as ’n inligtingsbron oor hierdie kwessie te dien. Ons wil net samewerking sien,” sê hy.

Caap is in die Gansbaai-omgewing werksaam.

Volgens Rwexana is niemand tot dusver in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.