Die polisie in KwaZulu-Natal het ’n 24-jarige verdagte in hegtenis geneem nadat ’n 22 maande oue meisie saam met haar ma en ouma in ’n vertrek in KwaNyuswa toegesluit is en die huis aan die brand gesteek is.
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die meisie het aan haar beserings gesterf.
Haar ma en ouma het die brand oorleef, maar is met brandwonde in die hospitaal opgeneem.
Gwala sê die verdagte het na bewering Donderdag omstreeks 15:15 met ’n 5 liter-kan petrol by die huis aangekom, petrol oor die huis en die slagoffers uitgegooi, hulle in ’n vertrek toegesluit en die huis aan die brand gesteek.
Hy het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Izingolweni verskyn, waar die saak teen hom tot vroeg volgende week vir verdere ondersoek uitgestel is.