Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pianis Charl du Plessis se stemtoerusting saam met kar gesteel

Die diewe kan sy motor met liefde hou, as hulle net asseblief sy instrumente waarmee hy klaviere stem, kan teruggee.

Die pianis Charl du Plessis. Foto: Verskaf

Die pianis Charl du Plessis se motor is Dinsdagoggend voor sy huis in Colbyn in Pretoria gesteel. Klavierstem­toerusting ter waarde van sowat R60 000 was in die motor se bagasiebak.

Volgens Du Plessis was daar ’n musiekrepetisie by sy huis. Hy het die gaste in sy motorhuis laat parkeer en sy silwerkleurige Volkswagen Polo het buite gestaan “waar ek al honderde kere geparkeer het”.

“Dis ’n lieflike woonbuurt. Ek bly al tien jaar lank hier en daar was nog nooit so ’n voorval nie. Tien minute nadat ek buite gestop het, het die tuinier my kom roep en gesê my kar is nou nie meer daar nie,” sê hy

“Dit was ongelooflik vinnig, soos ’n mes deur botter. ’n Mens kom nie eers agter hulle is besig om ’n motor te steel nie.”

Hy is egter meer ontsteld oor sy toerusting wat saam met die motor weg is, omdat hy tydens die inperking as klavierstemmer gewerk het.

“Dis mos nie ’n uitsonderlike ding dat ’n mens se kar in Suid-Afrika gesteel word nie. Wat vir my as ’n pianis sleg is, is dat optredes omtrent glad nie meer plaasvind nie. Net 50 mense by ’n geleentheid is nie finansieel volhoubaar nie, met daai getal kan jy nie eers die koste dek nie.

Oor die jare het ek duisende rande se gereedskap daarvoor bymekaar gemaak en dit het my noodplan geword om geld te verdien.

“Optredes is my hoofbron van inkomste en dis al vir ’n jaar lank min, maar ek het my hele lewe lank geleer hoe om klaviere te stem. Oor die jare het ek duisende rande se gereedskap daarvoor bymekaar gemaak en dit het my noodplan geword om geld te verdien,” sê Du Plessis.

Omdat dit aanvanklik net ’n stokperdjie was, het hy nog nie die toerusting verseker nie.

“Van die toerusting is met die hand gemaak en onvervangbaar. Dis nie goed wat jy oornag weer kan aanskaf nie. Sommige daarvan word gemaak volgens jou spesifikasies,” sê hy.

“Dis ook nie hier beskikbaar nie, dit kom vanaf Duitsland en Amerika. Dis só spesifiek ontwerp dat niemand anders iets daarmee kan doen nie. As jy nie weet wat dit is nie, beteken daai goed vir jou niks nie.”

Du Plessis skat daar is net sowat 25 klavierstemmers in Suid-Afrika.

“As ’n ander klavierstemmer dalk genader word oor die gereedskap, sal hulle my hopelik kontak. Ek hoop die diewe probeer dit iewers tweedehands smous. Ek sal dit selfs terugkoop. Dis soos as jy ’n rekenaar se hardeskyf verloor, omdat die inligting daarop onvervangbaar is, sal jy enigiets betaal om dit net terug te kry,” sê hy.

“Ek weet daar is baie erger goed in die wêreld. Dis net ongerieflik dat my manier om geld te verdien, nou op ys is. Ek probeer nou by iemand ou toerusting leen tot ek weer vanuit Duitsland kan bestel.”

Die polisie het nie Dinsdag op Netwerk24 se navrae reageer nie.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Pretoria  |  Motordiefstal  |  Pianis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.