Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Pilanesberg-roof: Egpaar erg getraumatiseer
Caroline het Vrydagaand dié foto van haar man, Shawn Pauw, op haar Facebook-blad geplaas. Dis vermoedelik geneem in die chalet by die Manyane-oord in Pilanesberg waar Pauw die volgende aand ’n rower sou doodskiet.Foto: Facebook

Shawn Pauw en sy vrou, Caroline, is erg getraumatiseer nadat Pauw Saterdagaand waarskynlik hul lewe gered het toe hy ’n rower in die Pilanesberg Nasionale Park doodgeskiet het.

’n Slaapkamer in vermoedelik die chalet waar Shawn en Caroline Pauw die afgelope naweek in Manyane in Pilanesberg tuisgegaan het toe rowers hulle oorval en Pauw een van hulle doodgeskiet het. Foto: Facebook

“Hulle het ontsettend na die naweek uitgesien,” het Pauw se pa, Leo, Dinsdag gesê.

“Die twee is nog glad nie gereed om met die media te praat nie. Hulle is nog baie ontsteld.”

Pauw het die rower Saterdagaand geskiet nadat hy en nog vier mans in die egpaar se chalet in die Manyane-oord ingebreek het.

Die rowers was met messe gewapen, sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Die gewonde rower is in die chalet dood. Die ander vier het met Shawn se skootrekenaar gevlug.

Funani sê ’n saak van gewapende roof en moord word ondersoek.

“’n Moordondersoek is die vaste praktyk in gevalle soos hierdie een.”

Volgens Funani moet die staat nou besluit of iemand vervolg gaan word of nie omdat die skieter moontlik in noodweer opgetree het.

Een van die foto’s met grappige byskrifte wat Caroline Pauw Saterdag in Pilanesberg op haar Facebook-blad geplaas het. Foto: Facebook
Shawn Pauw se inskrywing op Facebook toe hulle waarskynlik Vrydag (7 Junie) in die Manyane-oord in Pilanesberg aangekom het.Foto: Facebook
Caroline Pauw het dié foto van ’n kennisgewingbord in Manyane Saterdag op haar Facebook-blad geplaas. Daar staan onder meer die bestuur aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade aan persone of eiendom nie.Foto: Facebook
Dié foto van ’n pleknaambord van die Pilanesberg Nasionale Park is een van vele wat Caroline die afgelope naweek op haar Facebook-blad geplaas het. Sy en haar man, Shawn Pauw, het glo baie na hul wegbreeknaweek uitgesien. Foto: Facebook
Caroline het ’n foto van dié twee sebras in Pilanesberg op haar Facebook-blad geplaas, enkele ure voordat haar man, Shawn Pauw, Saterdag ’n gewapende rower in hul chalet sou doodskiet. Foto: Facebook

“Dit kan twee dae tot ’n week duur voordat so ’n besluit geneem word.”

Die vier voortvlugtige rowers was teen druktyd Dinsdag nog op vrye voet.

Shawn het Vrydag ’n kaart waarop Manyane aangedui word, op sy Facebook-blad geplaas met dié woorde: “Aaaaand let the next adventure begin.”

Hy en sy vrou het vermoedelik toe in Manyane aangekom vir hul wegbreeknaweek.

Caroline het Saterdag, enkele ure vóór die inbraak, foto’s van diere met vrolike inskrywings op haar Facebook-blad geplaas. Daar is ook foto’s van die chalet waar Shawn later die rower sou doodskiet.

Een van die foto’s wat Caroline op haar Facebook-blad geplaas het van vermoedelik die chalet in Manyane waar haar man, Shawn Pauw, Saterdagaand ’n gewapende rower doodgeskiet het.Foto: Facebook

Pauw, wat volgens sy Facebook-profiel in Meyerton in Gauteng woon, was blykbaar tevore in die polisiediens, maar dit kon nie bevestig word nie.

Dis nie duidelik hoe die rowers toegang tot Manyane verkry het nie. Die oord is omhein en wagte patrolleer die gebied, sê ’n werknemer by die oord.

Volgens ’n betroubare bron was daar sedert Desember 2018 twee inbrake, maar dis glo die eerste keer tot nog toe dat so ’n ernstige rooftog plaasvind en dat iemand dood is.

Richard Pickering, een van die gaste wat Saterdagaand in ’n ander chalet by die oord tuisgegaan het, sê hy het die skote gehoor en aanvanklik gevrees dat dit stropers is. Volgens hom het personeel by die oord hom die waarheid oor die gebeure vertel, maar dit erg afgewater teenoor ander mense deur te beweer slegs waarskuwingskote is geskiet.

Pickering glo die veiligheidsmaatreëls by die oord is nie voldoende nie en eis antwoorde oor wat die oord gaan doen om dit te verbeter. Hy sê daar was die afgelope tyd op sosiale media bewerings oor onder meer rooftogte of pogings tot rooftogte in Manyane.

Bestuurspersoneel by die park het sedert Maandag nie op versoeke om amptelike kommentaar gereageer nie.

Dinah Rangaka, woordvoerder van Noordwes se Parkeraad, het Dinsdagmiddag beloof om so gou moontlik navrae oor die veiligheid by Pilanesberg te beantwoord. Die vrae is eers Dinsdagmiddag aan haar gestuur. Haar kommentaar sal gepubliseer word sodra dit ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.