Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Piramide-regsman dié week tronk toe

’n Prokureur wat beleggers oorreed het om geld in sy broer se piramideskema te stort, moet Woensdag in Port Elizabeth vir ses jaar tronkstraf aanmeld.

Marinus Christo Horn

Net drie van die 52 beleggers het hul geld teruggekry.

Marinus Christo (Rinus) Horn, wat van die prokureursrol geskrap is, het aan die piramideskema van sy broer, Roche, deelgeneem. Dié is intussen dood.

’n Landdros het Rinus in 2016 tien jaar tronkstraf opgelê, maar dit is vroeër vandeesmaand op appèl in die hooggeregshof in Makhanda tot ses jaar verminder.

In dié verrigtinge het hy die hof probeer oorreed sy broer was ’n swendelaar wat hom mislei het.

Die hooggeregshof het egter voorverlede week bevind Rinus het geweet hoe die skema werk én dat hy willens en wetens sy prokureursfirma se trustrekening vir die skema se transaksies gebruik het om dit wettig te laat lyk.

Rinus se prokureur, Mark Nettelton van Makhanda, het aan Rapport gesê sy kliënt sal hom Woensdag in Port Elizabeth aanmeld om sy vonnis uit te dien.

Regter Murray Lowe het Rinus op 14 Julie vrygespreek op tien aanklagte van onder meer geldwassery en bedrog, maar hy bly skuldig op 50 aanklagte.

Die Horn-broers is in 2016 ná ’n jare lange strafsaak deur ’n landdros gevonnis. Roche het destyds 15 jaar tronkstraf gekry.

Die twee is aangekla van rampokkery, geldwassery en bedrog wat tussen Mei 2000 en Januarie 2001 gepleeg is.

Roche het destyds ’n drankwinkel in Silver Lakes, Pretoria-Oos, besit en Rinus ’n suksesvolle regsfirma in Port Elizabeth.

Luidens Lowe se uitspraak het Roche sy broer gevra om “oorbruggingskapitaal” van R2 miljoen by beleggers te werf sodat sy winkel geleenthede kon benut wat geskep is deur die toetrede tot die plaaslike mark deur die energiedrankiereus Red Bull.

Die groot lokaas wat Roche voor moontlike beleggers se neus geswaai het, was ’n winsgewende kontrak wat hy kwansuis met Red Bull sou sluit. Elke belegger is rente van 10% per maand op sy belegging beloof. Die geld sou glo gebruik word om die verkoop van drank en sigarette teen heelwat minder as die markprys te subsidieer.

Van die Red Bull-kontrak het daar niks gekom nie – iets waaroor Rinus geswyg het – maar die handel in drank en tabak het voortgegaan. Die Horn-broers het voorgegee dat dit winsgewend is, terwyl hul verliese van meet af aan groot was, het Lowe bevind.

Rinus was die skema se prokureur en sou ook die rente aan beleggers uitbetaal. Hy het hulle geflous deur ’n skematiese voorstelling van die sakeplan te doen waarvoor hy volgens Lowe diepte-kennis van die skema moes gehad het.

Die onderneming self het geen bankrekening gehad nie – wat die rooi ligte moes laat flikker het. Die geld het eerder deur Rinus se regsfirma se trustrekening gevloei. Baie beleggers het rente gekry wat betaal is uit nuwe beleggers se inbetalings – die wese van ’n piramideskema – maar almal behalwe drie het hul geld verloor. Uiteindelik het 52 beleggers R1,5 miljoen in die trustrekening inbetaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.