Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanval: ‘Tannie Gezina in voorkop geskiet’

“Dis ontsettende slegte nuus vir ons boeregemeenskap. Oom Pierre en tannie Gezina is die sagmoedigste mense denkbaar.”

So het Nicol Muller, voorsitter van Agri Molopo se boere-unie in Noordwes, gesê nadat Gezina Bruwer (69) Vrydagoggend in ’n plaasaanval doodgeskiet is.

Die Bruwers is volgens Muller ’n geliefde en gesiene boere-egpaar wat al jare naby Vorstershoop digby die Botswana-grens boer en betrokke is by hul gemeenskap.

Gesina en Pierre Bruwer ’n paar jaar gelede in hul plaashuis naby Vorstershoop in Noordwes.Foto: Alet Pretorius

Pierre Bruwer (70) is vroeg Vrydagoggend uit om na die boerdery om te sien. Die aanvallers het die plaashuis vermoedelik dopgehou en by die huis ingegaan kort nadat Bruwer uit is. Christa Holtzhauzen, wat op die buurplaas woon, sê spoorsnyers in die omgewing het ná die aanval ’n plek naby die Bruwers se huis gekry waar die aanvallers vermoedelik die vorige nag geslaap het. “Daar was spore, lê-merke en waterbottels.”

Die aanvallers het Gezina in die huis oorrompel. “Dit lyk of hulle in die televisiekamer toegesak het, want haar skoene het net buite die vertrek gelê,” het Holtzhauzen vertel. “Die tafeltjie was omgekeer en die banke se lappies het op die grond gelê.”

Toe Bruwer omstreeks 10:00 terugkeer na die plaashuis, het hy Gezina op sy leunstoel in ’n ander vertrek in die huis sien sit. “Hy het haar van die kant gesien en gedink sy slaap,” sê Holtzhauzen.

Pierre Bruwer op sy plaas naby Vorstershoop in Noordwes.Foto: Alet Pretorius

“Oom Pierre het nog die vleisie wat sy vir hom gemaak het, in die kombuis gaan eet en water gedrink. Eers toe hy haar daarna wou gaan wakker maak, het hy die bloed gesien en hulp ontbied.”

Holtzhauzen en haar man, Jaco, was kort daarna by die Bruwers. “Tannie Gezina is in die voorkop geskiet. Sy het geen reaksie getoon of ’n polsslag gehad nie. Oom Pierre het my seker omtrent 100 keer gevra om seker te maak of sy nie dalk tog leef nie.”

Muller sê die rowers het die kluis in die plaashuis vermoedelik vergeefs met ’n hoekslyper probeer oopbreek.

Hulle het die huishulp, teen druktyd net bekend as “Eina”, in die Bruwers se Toyota Land Cruiser ontvoer. Sy is later in die veld afgelaai, waarna sy vroegmiddag weer haar pad na die plaashuis teruggevind het, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê. “Ons vermoed daar was drie aanvallers. Hulle het ook twee pistole gesteel.”

Volgens Myburgh werk die polisie in Suid-Afrika en Botswana saam om die moordenaars te probeer aankeer.

Die Bruwers se seun, Lafras, boer ook in die Vorstershoop-omgewing. Hulle het twee dogters. Carma Venter woon in Vryburg en Erna Bruwer in Pretoria.

Meer oor:  Noordwes  |  Doodgeskiet  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.