Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanval: ‘Toe ek hoor dis sy, het ek vir haar oopgemaak’

Was dit nie vir die feit dat haar weldoener die 80-jarige Daleen van der Hoven se stem herken het nie, sou sy sekerlik in die koue Oos-Vrystaatse winternag verkluim het.

Mathato Nkoro (72) wys waar Daleen van der Hoven gestaan het toe sy om hulp aangeklop het. Foto: Deon Raath

Maar Mathato Nkoro, op 72 self ’n bejaarde vrou, het Van der Hoven onmiddellik ingenooi, haar in warm komberse toegedraai en hulp ontbied.

Nkoro bly in ’n nederige kliphuis in Lesotho, skaars 30 m van die grensdraad in die Zastron-omgewing. Haar huis is sowat 6 km van die plaaswerf op Wanatha, die plaas waar Van der Hoven in die nag van 3 Julie wreed aangeval en ontvoer is.

Haar aanvallers, wat blykbaar van Lesotho af kom, het haar vir dood langs ’n bergpad gelos, waarna Van der Hoven vir hulp gaan aanklop het by die eerste huis wat sy kon kry.

Ons gaan nie oorgee en trek nie.

Nkoro sê sy het Van der Hoven se stem onmiddellik herken toe sy in die vroeë oggendure eers aan haar vensters en toe aan die deur klop. “Ek ken haar goed. My dogter werk vir haar en sy het ons al met kos in die lockdown gehelp,” sê Nkoro.

“Ek was bang toe sy klop, maar toe ek hoor dit is sy, het ek vir haar oopgemaak. Jy kon dadelik sien sy het baie seergekry.”

Nkoro sê dit was bitter koud. “Sy het kaalvoet daar gestaan, net met ’n nagrokkie en ’n japon aan. Ek het haar ingenooi, vir haar drinkwater of tee aangebied. Sy het water gevra en ’n selfoon,” sê Nkoro.

“Ek het my skoondogter se selfoon gaan haal, want ek het nie een nie. Ek was bang die vrou se mense dink dit was ek wat haar seergemaak het wanneer hulle hier aankom.” Daarna het sy ’n verwarmer aangesit en Van der Hoven in komberse toegedraai. “Toe bel ons haar buurman Tommie,” sê Nkoro.

Daleen van der Hoven

Nkoro sê sy is bang.

“Ek bly alleen hier en daar kom gereeld smokkelaars en misdadigers deur die hek naby my huis. Wat kan ek alleen doen? Ek maak maar net elke keer die hek weer toe. Ek is dankbaar vir die Here wat my tot nou toe opgepas het.”

Intussen gaan die lewe aan op die Van der Hoven-familieplaas.

Van der Hoven het die afgelope Vrydag saam met vier van haar ses kinders en ander familie en bure haar 81ste verjaardag op Wanatha gevier. “Ek het maar ’n harde kop jong, die booswigte sal moet baie harder slaan om my plat te kry,” lag Van der Hoven toe sy gister met Rapport gesels.

“Dis al vir 54 jaar ons plaas. Ons gaan nie oorgee en trek nie. Die lewe gaan aan,” sê Van der Hoven. Sy sê sy herstel goed. “Ek voel soms bietjie van balans af, maar mens raak ook ouer, so dit kan daaroor ook wees, maar verder gaan dit goed.”

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven  |  Lesotho  |  Zastron  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.