Die aanvallers het die huis stil-stil bekruip, ’n skuifdeur stukkend geslaan en haar suster gegryp en as gyselaar gehou voordat iemand hulp kon ontbied.
So vertel ’n vrou oor haar suster (27) en ouers, in hul 60’s, wat Dinsdagaand laat in hul huis op ’n plaas in die Paarl deur ’n groep mans aangeval en beroof is.
Die plaas se naam en die slagoffers se name word op versoek van die dogter nie bekend gemaak nie.
Volgens haar was haar suster alleen in haar kamer en het haar ouers omstreeks 21:30 televisie gekyk.
Die aanvallers het stil-stil onder veiligheidsligte buite die huis deurgekruip, met steierwerk tot op die stoep geklim en toe ’n skuifdeur se glas stukkend geslaan. Hulle het haar suster gegryp en as gyselaar gehou.
“Selfs nie eens die hond het iets gehoor totdat die glas stukkend geslaan is nie. Hulle het gedreig om my suster leed aan te doen indien my ouers nie hul selfone oorhandig nie. Alles het so vinnig gebeur dat daar nie eens tyd was om hulp te ontbied nie,” sê die vrou.
Volgens haar het die aanvallers haar ouers en suster in die kombuis vasgebind en toe saam met die hond daar toegesluit terwyl hulle die huis geplunder het. “Hulle was te voet en het slegs gesteel wat hulle kon dra.”
Haar ouers en suster het ’n paar kneusplekke “maar is andersins oukei”, sê sy.
Volgens haar was daar verlede Donderdag ook drie mans op die plaas (wat verwilder is toe ’n voertuig opgedaag het, volgens inligting van die Drakenstein-plaaswag).
“Die polisie vermoed dit is seisoenwerkers. Hulle was moontlik ook betrokke by ’n voorval op ’n vrouedokter op ’n plaas daar naby,” sê sy.
Kapt. F.C. van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê vyf mans met klapmusse het ’n skuifdeur oopgebreek om toegang tot die huis te kry.
“Hulle het die familie vasgebind, daarna die huis geplunder en met elektroniese artikels, juweliersware en vuurwapens gevlug.” Niemand is beseer nie. Volgens hom het dit aan die lig gekom dat daar ook onlangs probeer is om by die plaas in te breek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volgens inligting op die Drakenstein-plaaswag se Facebook-blad het die aanvallers die kamerastelsel uitmekaargehaal en ook ’n opneemtoestel gevat. Die egpaar is ook blykbaar gedwing om ’n kluis oop te maak.
Die egpaar het die plaaswag se noodradio gebruik om hulp te ontbied nadat hulle hulself kon loskry.
Die plaaswag se noodbeheerkamer-operateurs het die oproep ontvang en ’n mediese span van die plaaswag, asook lede van Fidelity ADT, is dadelik soontoe. Die polisie in die Paarl is ook verwittig en almal het saam op die plaas aangekom, luidens die Facebook-blad.
Volgens die plaaswag was die verwoesting van die aanval in die huis sigbaar. Die landelike gebied van die Paarl is ook nou al meer as een keer geteiken die afgelope klompie weke.
• Mense met inligting kan die polisie in die Paarl by 021 807 4000 bel of die tolvrye nommer 08600 10111 skakel.