Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvalle: ‘2017 ’n pikgitswart jaar’

As 2016 ’n swart jaar vir boere was, is 2017 ’n pikgitswart jaar.

Só sê Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU Suid-Afrika se veiligheidskomitee.

Hy verwys na die vlaag plaasaanvalle wat soos ’n donker wolk oor die land hang.

Maandag het Netwerk24 oor vier aanvalle, ’n moord inkluis, berig wat tussen Sondag en Maandagaand plaasgevind het.

* ’n 41-jarige vrou het haarself, haar negejarige kind en ’n vriendin in die badkamer van haar plaashuis naby Lydenburg, Mpumalanga, toegesluit om van vyf gewapende rowers weg te kom.

* Rowers het  Alet Winddish (76) op haar kleinhoewe in Onderstepoort, in die noorde van Pretoria, met ’n skroewedraaier aangeval.

* Bruce Richardson, voorsitter van die Plettenbergbaai-misdaadvoorkomingsvereniging (PBCPA), het ’n voorval bevestig waar rowers na bewering by ’n 50-jarige man se plaashuis ingebreek het. Hy het verskeie beserings in ’n struweling opgedoen.

* Kyle Stols (22), ’n voorman op ’n plaas van Hatari Game Breeders in die Jagersfontein-omgewing in die Vrystaat, is Sondag in die bors en kop geskiet. Hy is op die toneel dood.

Organisasies het hul misnoeë Maandagaand teenoor Netwerk24 uitgespreek.

Ian Cameron, veiligheidshoof van AfriForum, Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in Centurion. Foto: Sarel van der Walt

“Mbalula lieg vir die publiek!” sê Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof. “Hy ontmoet nou die dag met AgriSA en maak ’n klomp beloftes, maar dis alles leuens. Die minister van polisie het misluk in sy plig om ons boere te beskerm.”

Volgens TLU moet boere noodgedwonge polisieman speel.

“Die boere is meestal eerste op die misdaadtoneel en moet dikwels die toneel beskerm totdat die polisie opdaag. By een van die tonele vandag (Maandag) was die polisie se forensiese ondersoekers daar. Die familie het glo nadat hulle weg is, nog bewyse in die huis opgetel,” sê Geldenhuys.

“Die polisie moet uit hul wegspringblokke kom. Die landelike beveiligingsplan werk nié. ’n Boer se primêre taak is om kos te produseer, maar nou moet hy polisieman speel vir homself en sy bure! En hulle het nie die regsdekking wat polisiebeamptes het nie, so as hy nou soos ’n polisieman optree, word hy sommer in hegtenis geneem. Só kan dit nie aangaan nie. Die boere is g*tvol.”

Mbalula lieg vir die publiek!
Ian Cameron

Volgens Geldenhuys en Cameron is daar ook haakplekke in die polisie se reservisteprogram.

“Waar ’n boer voorheen opleiding in die aande of oor naweke gekry het, moet hy nou drie opeenvolgende weke verlof neem. Die boere kan nie soveel aaneenlopende tyd afknyp nie,” sê Geldenhuys.

Cameron meen die reservisteprogram “bestaan nie”. “Die opleiding het al twee jaar gelede begin. Daar is nog nie eers opleidingsmateriaal uitgestuur nie,” sê hy. “Die keuring is net so ’n klug. Mense wat bevoeg en fiks is word sommer afgekeur,” sê hy.

Die DA is net so bekommerd oor die vlaag plaasaanvalle.

“Ons is besig om met veiligheidstrukture en landbougroepe te vergader om inligting in te win en om swakpunte in die landelike veiligheidsplan van die polisie te identifiseer. Daar is ’n reusetekort aan intelligensie wat kan help om aanvalle af te weer,” sê Annette Steyn, DA-LP en woordvoerder oor landbou.

Die plaasaanvalle-syfer staan tot op 22 Oktober op 340, teenoor laasjaar se 307, volgens statistiek wat deur TLU bygehou word. Daar is ook reeds 64 plaasmoorde gepleeg, teenoor 55 teen dié tyd verlede jaar.

Jeanelle Greyling berig dr. Johan Burger, ’n onafhanklike konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, sê: “Ons het nog drie maande van 2017 oor. Die statistieke kan aansienlik anders aan die einde vanjaar lyk.”

Ons is besig om met veiligheidstrukture en landbougroepe te vergader om inligting in te win en om swakpunte in die landelike veiligheidsplan van die polisie te identifiseer.

Volgens Burger het die aantal aanvalle tussen 2012 en 2016 met 112% gestyg en plaasmoorde met 34%.

Die minister van polisie is Maandagaand vir kommentaar genader en sal op die navrae reageer sodra die jaar se misdaadstatistiek Dinsdag vrygestel is, sê Vuyo Mhaga, woordvoerder van die minister.

Hou Netwerk24 dop vir die ministerie se reaksie.

Meer oor:  Misdaadstatistiek  |  Ian Cameron  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.