Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvalle: ‘Dáárom swyg Cyril’

Ná ’n vlaag van plaasaanvalle en ses moorde op hoewes en plase in Junie, loop pres. Cyril Ramaphosa toenemend onder kritiek deur omdat hy nie dié soort misdaad in die openbaar veroordeel nie.

Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het vandeesweek gesê daar is ’n “ongemak” by Ramaphosa en sy ministers om plaasaanvalle en -moorde te veroordeel.

Dr. Piet Croucamp lê die blaam vir dié sogenaamde ongemak by landbou-organisasies wat misdaad op plase volgens hom verpolitiseer het.

“Gaan haal Dan Kriek op sy plaas sodat hy met die president praat,” sê Croucamp.

Hy sê solank as wat landbouers die konsep van boerdery in ’n politieke of ras-identiteit verpak, sal dit moeilik vir die ANC wees om hom teen plaasmoorde uit te spreek.

Gaan haal Dan Kriek op sy plaas sodat hy met die president praat.

Boere moet self met Ramaphosa gaan praat, want die organisasies wat hulle verteenwoordig, is gestigmatiseer.

“Dit gesê, die polisie is te korrup en onbelangstellend om misdaad hok te slaan en ek weet nie of ’n politieke uitspraak dit sal verander nie.”

Croucamp sê daar is geen manier waarop misdaad in landelike gebiede opgelos sal word sonder dat misdaad in die algemeen opgelos word nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die ongekende vlaag van plaasaanvalle en moorde op boere vereis dat die president dit ten sterkste veroordeel.

Die omvang en wreedheid van plaasmoorde en die stilswye van die president, asook die gebrek aan regeringsondersteuning, wek by hom die indruk dat die ANC se grondonteieningsprogram hom tot stilswye dwing.

“Dit wil voorkom asof Ramaphosa dit nie kan waag om te vra dat boere teen aanvalle beskerm word nie, want dan sal hy ook moet vra dat hul eiendom beskerm moet word – en dit bots met grondonteiening sonder vergoeding.”

Annette Steyn, DA-LP, sê dit is duidelik dat Ramaphosa en sy regering wegskram van die onderwerp van plaasaanvalle.

Misdaad teen vroue en kinders het ’n vlaag van woede deur die land gestuur. Net soos wat dit onaanvaarbaar is dat ’n baba verkrag word en ’n swanger vrou doodgesteek en in ’n boom opgehang word, net so mag en kan niemand die wrede moorde op plase ontken nie, sê Steyn.

Is jy bang om aan die wêreld te erken dat jy gejok het toe jy ontken het dat boere op plase in Suid-Afrika vermoor word?

“Die regering sê niks nadat vyf boere vermoor is; wat beteken dit? Beteken dit net sekere lewens het waarde en dat ‘wit boere’ nie hier hoort nie,” vra sy.

Steyn sê sy wonder of Ramaphosa weet swart boere, sowel as wit en swart plaaswerkers, is ook slagoffers van die aanvalle.

“Is jy bang om aan die wêreld te erken dat jy gejok het toe jy ontken het dat boere op plase in Suid-Afrika vermoor word?”

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê Ramaphosa en die ANC beskou boere as hul vyand en daarom kan en wil hy niks teen plaasaanvalle sê nie.

Die landbousektor is nog nie in die regering se hande nie, dit is al wat hy nog nie beheer nie en sy mikpunt is om dit ook te beheer, sê Meintjes.

“Ons kon dit sien met die ANC se pogings om (die verspreiding van) kospakkies te beheer; dis ’n kommunistiese oogmerk om kos te beheer.”

Meintjes meen as die regering wel teen landelike misdaad ingryp, sal dit onder die tafel wees en nie openlik nie.


Meer oor:  Johan Burger  |  Cyril Ramaphosa  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.