Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Plaasaanvalle: ‘Die hartseer gaan nooit weg nie’
Elzabie, Breggie en Dan Brand is op 26 Julie wreed in hul huis in Hartswater aangeval, ontvoer en later vermoor. Foto: Verskaf

“Ons het Donderdagaand gekyk hoe die son oor Vaalharts sak en daar, in verwondering oor die pragtige kleure geskilder in die lug, het ek besef dat die son vir my ook oor Vaalharts gesak het. Daar sal altyd soveel stukke van my hart lê, maar dit is nie meer huis nie. Dit sal nooit weer vir ons huis kan wees nie.”

Heidie Taljaard, dogter van Dan (83) en Breggie (73), en suster van Elzabie Brand (54), wat op 26 Julie verlede jaar in Hartswater vermoor is, het Sondag in ’n roerende plasing op Facebook oor haar emosies geskryf nadat sy Donderdag die hofverrigtinge bygewoon het waar die vyf beskuldigdes in die moorde om borgtog sou aansoek doen.

Taljaard sê sy wou graag haar emosies verwoord sodat mense nie vergeet hoe wreed plaasaanvalle is nie en dat die hartseer vir die familie nooit weggaan nie.

“Ons is op pad huis toe. Ons was die week by die borgtogaansoek van vier beskuldiges in my ouers en sus se moordsaak.”

Een van die verdediging se prokureurs het die koronavirus onder lede en kon nie die verrigtinge bywoon nie. Die saak is dus tot 4 Maart uitgestel.

Een van die beskuldigdes, Kgomotso Mpulwana (42), se borgtogaansoek is reeds vroeër geweier, maar sy gaan weer saam met die ander om borgtog aansoek doen.

Sy beskryf hoe sy saam met haar gesin deur vervalle dorpies ry. “Die mooie Vrystaat ná die reën. Daar is soveel gedagtes wat in my kop rondmaal, soveel vrae, soveel emosies . . .”

Sy sê Mpulwana se hare was mooi gevleg.

“Sy het seker maklik 10 kg opgetel. Sy gaan trek geld en loop saam met ’n bewaarder na die kitsbank op die dorp en kom rustig vol grappe en geselsies terug. Die ander vier eet heerlik KFC.

“Hulle leef lekker en gaan aan met hul lewe. My ouers en sus het nie daardie voorreg nie. Ons het nie daardie voorreg nie!”

Sy sê sy het die plek besoek waar haar gesin “se liggame weggegooi was”.

“Ons het stadig, versigtig gery met die klipperige pad, op na pappa se geliefde randjies toe. Hulle het ook só gery, saam met die vyf mense met moord en haat in hul oë. Wreed en ongenaakbaar.

“Ons kon uitkyk oor die hele Vaalharts. Dit is so mooi. Hartsplek. Maar daar waar soveel bloedsweet gelê het, het ons hart se stukke ook gelê.”

Taljaard skryf sy het gewonder of haar gesin dit raakgesien het met daardie laaste rit?

“Of, was die vrees te veel en het hulle net stil gebid?

“Deur die doringbosse moes hulle stap. My sus kaalvoet, die bosse het haar bene stukkend gekrap, maar daaraan kon hulle sekerlik nie dink nie, want hulle moes tog weet hoe dit sou eindig?”

Sy sê vrees en angs het haar daar oorval.

“Ek raak aan die doringtakke, dalk om te probeer om vas te hou aan hulle.

“En daar, in die koue winterlug, is hulle weggegooi. Ná dit alles, eet die verdagtes KFC en dring aan op allerlei voorregte.”

“Ons ry huis toe. Stukkend. Soekend na antwoorde, na berusting, na aanvaarding.

“En iewers in die Karoo op ’n berg is ’n boodskap . . . Lewe . . .”

Meer oor:  Hartswater  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.